Agri Kultuur September / September 2015 | Page 41

enige waarneembare negatiewe effekte. ‘n Hele paar verskillende Bacillus spesies word ook suksesvol in voedselgewasverbouing gebruik om larwe van onder andere ruitrugmotte en Afrika bolwurm te beheer. So ook is daar ‘n ander natuurlike middel, ‘n swam by name Beauveria bassiana wat larwes ook goed beheer. Dis nie net meer chemie nie! Natuurlike plantmetaboliete word ook ingespan: een van die mees bekendes is asadiragtien wat die aktiewe bestanddeel van Neemolie is. Ongelukkig is daar ‘n potensiële probleem as die olie nie behoorlik gedistilleer en gesuiwer is nie. Dit kan dan moontlik een van die uiters gevaarlike aflatoksiene bevat. Gesuiwerde Neemolie is egter ‘n uitstekende middel wat ‘n klomp landbouplae effektief beheer sonder enige noemenswaardige nadelige effekte op die natuurlike omgewing. Selfs die onbekende (in Suid-Afrika) oksimatrien wat ‘n natuurlike alkaloïed is (nadat dit geoksideer is), is bekend vir uitstekende plaagbeheer op ‘n klomp plantplae. Die middel is toevallig ook bekend vir gesogte mediese eienskappe wat al jare lank in Sjina benut word. Die natuur se eie chemie is soms ongelooflik! Daar is stadig maar seker besig ‘n hele aantal natuurlike plaagdoders die lig te sien. Vooruitskatting is dat oor twintig jaar natuurlike middels soos genoem reeds 15% van die plaagdodermark sal beset. Beteken dit dat sintetiese chemie gaan verdwyn? Onwaarskynlik maar die toetrede van die natuurlike middels gaan die geïntegreerde plaagbeheer baie meer aanloklik maak, die impak op die omgewing verminder en veiliger landbou-omgewings skep. Dit is ook bemoedigend om te sien hoe nuwe sintetiese plaagdoders al hoe minder negatief vir die omgewing raak. Ongelukkig verg sulke middels ‘n baie ernstige bestuursbenadering om weerstand te keer aangesien sulke “sagte” middels geneig is om maklik aan weerstandontwikkeling blootgestel te wees. Photot: http://cdn.arstechnica.net/wp-content/uploads/2012/06/5284040324_95312c33bd_z.jpg Natuurlike plaagdoders is nie wondermiddels nie en soms faal dit heeltemal omdat die weersomstandighede teen dit tel. Metarhizium anisopliae, ‘n swam wat vir die beheer van treksprinkane ontwikkel is, het byvoorbeeld nie effektief in die Karoo gewerk nie omdat die klimaat te droog en te warm is. Dit wil nie sê ons skryf dit af nie; inteendeel hou ons sulke produkte op ys totdat die noodsaaklikheid vir ‘n bepaalde plaag se beheer in gunstige klimaat ontstaan en dan laai ons daardie kanonne. Ons kan ons sterre dank vir die Bacillus wat die wildtuin se malariamuskiete onder beheer hou en wie weet oor ‘n paar jaar kan ons dalk ‘n klomp ander peste en plae met nuwe natuurlike middels aanpak. Intussen is die boodskap oor verantwoordelike plaagbeheer steeds om streng volgens etiket te werk en so ver as moontlik geïntegreerde plaagbeheer toe te pas.