Agri Kultuur April / April 2016 | Page 70

Artikel deur Engela Duvenage Foto’s verskaf V ir die Universiteit Stellenbosch is die Rooiplein in die hartjie van die kampus sy eie Trafalgarplein of Times Square. ‘n Duisend of wat pare voete (en ook ‘n paar wiele) vat daagliks die pad hieroor. Dit word gereeld gebruik as opelug-uitstalruimte of amfiteater vir musiekproduksies. Studente kom ook op die rooi baksteentrappe wat aflei na die ondergrondse JS Gericke Biblioteek bymekaar om protes aan te teken of hul stem te laat hoor oor ‘n onderwerp of twee. Vanuit hierdie gebou word studente jaarliks na plaaslike kelders gestuur om hul internskappe te doen, en sodoende onder die vleuels van kenners in die bedryf méér as net ‘n paar ure se praktiese, bedryfspesifieke ondervinding op te doen. Dié internskapsprogram is ‘n paar jaar gelede op die been gebring, en blyk hoogs suksesvol te wees. Dit dra daartoe by dat studente meer as rég is vir die praktyk wanneer hulle uiteindelik die graad BScAgric Wingerd- en Wynkunde agter hul name skryf. Die Neethlinggebou, al vir jare die tuiste van die US se wynkundiges, kyk op dié plein uit. Dié gebou is die tuiste van onder meer die Departement Wingerd- en Wynkunde en die Instituut vir Wynbiotegnologie. Dis waar vooren nagraadse aspirant-wynmakers en wingerdboukundiges onder meer klas loop. Stap mens vanaf die Rooiplein in Victoriastraat se rigting, kan die pad jou vat verby die Neethlinggebou. Dis dan wanneer jy gereeld getref kan word deur ‘n mosagtige geur so eie aan ‘n Bolandse wynkelder soos kan kom. In die kelderverdieping van die gebou is studente en navorsers gereeld besig met proewe om te verfyn wat hulle reeds alles weet van Suid-Afrikaanse wyne, en oor hoe om dit ten beste te berei. Dis ook vanuit die kelderverdieping wat prof Wessel du Toit sy gereelde kortkursus vir garagiste- wynmakers aanbied. Dis vir Jan of San Alleman bedoel wat nog altyd daarvan gedroom het om ‘n aspirantwynmaker te wees. Die volgende kursusse word juis weer oor die naweke van 27 tot 29 Mei asook 2 tot 4 September 2016 op Stellenbosch aangebied. Omdat die Rooiplein so letterlik en figuurlik sentraal staan in die wel en weë van die US, is dit dus gepas dat dit ook gevier word deur een van die wyne wat uit die US se eie Welgevallen Kelder kom. Die Maties Rooiplein-naam is ‘n bietjie van ‘n woordspeling, verklap wynmaker en kelderbestuurder Riaan Wassung. “In plaas van ‘n ‘dry red’ noem ek