Senwesbel Annual Reports Senwesbel 2016/2017 Jaarverslag | Page 6

VOORSITTERSVERSLAG VIR DIE SENWESBEL GROEP GEAGTE AANDEELHOUERS EN ANDER BELANGHEBBENDES “Daar is tye van gevaar en onsekerheid, maar dit is ook die mees kreatiewe van alle tye in die geskiedenis van die mens” - Robert F. Kennedy 1966. Gedurende die afgelope finansiële jaar van onsekerheid op beide makro-ekonomiese en politieke vlak en een van die ergste droogtes tot op datum in die Senwes gebied, het die bestuur van Senwes weer hul kreatiwiteit, fokus en deursettingsvermoë bewys. Die prestasie van die Senwes groep gedurende die afgelope moeilike finansiële jaar, spreek van hierdie eienskappe. Senwes volg ‘n dividendbeleid waarvolgens gepoog word om dividende te handhaaf gedurende ‘n dalende siklus. Senwes kon, ten spyte van ‘n groot verskeidenheid uitdagings, steeds daarin slaag om ‘n dividend van 40 sent per aandeel (voor belasting) gedurende die finansiële jaar te betaal. Dit het Senwesbel in staat gestel om ‘n totale dividend van 27 sent per aandeel (voor belasting) uit te keer en te betaal, wat ‘n dividendopbrengs van 4,5% tot gevolg gehad het. Die opbrengs in die vorige finansiële jaar was 4,6%. Die Senwesbel direksie is tevrede met die voortgesette belegging in Senwes. Senwesbel het gedurende die finansiële jaar die belang in Senwes verder verhoog. 1 689 548 Senwes aandele is gedurende die jaar verkry wat Senwesbel se totale belang in Senwes tot 52,91% verhoog het. Die gemiddelde aankoopprys van R10,55 per aandeel was laer as die netto batewaarde. Die beperking in Senwesbel se Akte van Oprigting, wat primêr die aandeelhouding in Senwesbel beperk tot bona fide-boere, beperk die verhandeling van Senwesbel aandele en het gevolglik ‘n invloed op die aandeelprys. Senwesbel se direksie oorweeg gereeld of die beheerstruktuur gehandhaaf moet word. ‘n Verandering in regulatoriese vereistes het veroorsaak dat die verhandelingsplatform vir Senwesbel aandele gewysig moes word en Senwesbel het gevolglik gedurende Februarie 2017 op ZAR X genoteer. 5 SENWESBEL VERKORTE JAARVERSLAG 2017 Senwesbel Beperk Reg nr: 1996/017629/06