Weens sterk mededinging deur internasionale en plaaslike rolspelers in die verkryging van graan en die
verskaffing van insetprodukte, sal die groter produsente-aandeelhouersblok, wat geskep sal word deur die
Senwesbel en NWK Beherend samesmelting, in staat wees om plaaslike en internasionale geleenthede te
verken en om terselfdertyd geografiese en kommoditeitsrisiko’s te mitigeer.
Die voorgestelde samesmelting is nog onderworpe aan aandeelhouersgoedkeuring, sowel as regulatoriese
goedkeuring deur byvoorbeeld die Mededingingskommissie.
Senwes het ook ‘n transaksie aangegaan met AFGRI gedurende die jaar in terme waarvan die twee
landboudienstemaatskappye hul landboukleinhandelsbesighede en Prodist, die AFGRI groothandelsfiliaal,
saamgesmelt het. Die partye is gelyke aandeelhouers in die gesamentlike onderneming. Elke party sal
voortgaan met die bedryf van sy eie meganisasiebesigheid, wat die John Deere agentskappe insluit. Die
transaksie is steeds in ‘n implementeringsfase en ons verwag dat dit verhoogde verdienste vir beide Senwes
en AFGRI sal meebring. Sinergieë en verhoogde ekonomieë van skaal behoort by te dra tot laer pryse en ‘n
beter en breër produkaanbod aan verbruikers. Dit het ook bygedra tot die mitigering van die kommoditeits- en
geografiese konsentrasierisiko vir Senwes.
Finansiële hoogtepunte
Senwesbel het op Groepsvlak ʼn aandeelhouersopbrengs van R122 miljoen vir sy aandeelhouers gegenereer
gedurende die jaar, waarvan R47 miljoen uitbetaal is in die vorm van dividende. Senwesbel het ‘n netto groei
in ekwiteit van R147 miljoen gereflekteer en kondig met trots ‘n verdienste per aandeel van 110,8 sent aan,
nieteenstaande die moeilike jaar.
‘n Finale dividend van 17 sent per aandeel is voorgestel. Die totale dividend vir die jaar beloop 41 sent per
aandeel. Die Senwesbel Direksie wens graag die Senwes Bestuur en personeel geluk met die eienaarskap
wat geneem is ten opsigte van die Groep se groeidoelwitte en die handhawing van hoë vlakke van
korporatiewe beheer en bestuursfokus onder moeilike omstandighede.
Die stabiliteit van die Senwesbel aandeel bied uitstekende sekuriteit vir maand- en produksierekeninge by
Senwes.
Die komende jaar
Ons sien uit na ‘n herstel na volhoubare groei vir Senwes weens beter vooruitsigte vir die 2014/2015 jaar.
Verbeterde oesskattings is aangekondig en daar word voorsien dat silovoorraadvlakke dienooreenkomstig
sal verhoog. Verhoogde besigheidsvertroue onder produsente behoort spandering ten opsigte van produksie-
insette en kapitaalgoedere aan te moedig.
Ons sal voortgaan op ons strategiese weg deur die bestuur van die Maatskappy se belegging en die
ontginning van konsolidasiegeleenthede in die landbouomgewing.
Bedankings
Die Direksie bedank graag die bestuur en personeel van ons filiaal, Senwes, vir sy deurlopende entoesiasme
en dryf na uitmuntendheid. Ons is ook opreg dankbaar teenoor ons Skepper, op wie ons vertrou om ons te lei
in alles wat ons doen. Ek bedank ook graag die Senwesbel Direkteure en ons Maatskappysekretaris, Alwyn
Scholtz, vir hul getroue ondersteuning.
Dries Kruger
Voorsitter
Klerksdorp
26 Junie 2014
Senwesbel Verkorte Jaarverslag 2014
6