Senwes Scenario September - November 2021 | Page 58

LANDBOUKUNDIG :

Sclerotinia :

Hier om te bly of seisoenaal ?

NUUS
55 | Sclerotinia : Vervolg
SLOTSOM :
Die afgelope seisoen se bogemiddelde reënval het baie vrese ontlok vir ondere andere siektes soos Sclerotinia . Ten spyte van verlengde nat periodes die afgelope seisoen was daar egter minder swamsiektes as wat aanvanklik verwag is en boere het waarskynlik minder siektedruk ervaar as in vorige seisoene .
Klimaatstoestande van elke seisoen verskil van mekaar en alhoewel sekere siektes meer ekonomiese verliese as ander kan veroorsaak kan daar nie met sekerheid gesê word tot watter mate ‘ n sekere siekte in ‘ n bepaade seisoen gaan voorkom nie . Daar kan wel met sekerheid gesê word dat sonneblom se waarde as geharde kontantgewas nie onderskat moet word nie en dat hierdie nederige oliesaadgewas in die verlede ‘ n groot rol gespeel het in die sukses van baie boerderye in Suid-Afrika .
VERMINDER RISIKO SO :
Boere kan hul risiko die komende seisoen verminder deur te fokus op pakket aanplantings van sonneblomkultivars wat bekend is vir hul siekteweerstand . Produsente se risiko kan aansienlik versprei word deur ‘ n pakket van minimum drie verskillende siekteweerstandbiedende kultivars aan te plant . In areas wat sukkel met Sclerotinia kan ‘ n goeie opsie ook wees om te fokus op enkelkruis sonneblombasters vir die komende seisoen . Aangesien sonneblom die sensitiefste is vir sclerotinia infeksie net na die blomstadium is dit moontlik dat enkelkruis sonneblombasters ‘ n boer se risiko kan versprei as gevolg van enkelkruise se verkorte blomsiklus . Drieweg sonneblombasters blom gewoonlik vir ‘ n langer periode as enkelkruis sonneblombasters wat moontlik kan lei tot ‘ n groter sclerotinia risiko .
* Die data wat versamel is uit die bogenoemde proewe is gegrond op laat sonneblom aanplantings gedurende die 2020 / 21 seisoen .

KOMMISSIE WAARSKU OOR ONREGVERDIGE PRYSVERHOGINGS

Die Suid-Afrikaanse Verbruikerskommissie waarsku verskaffers om nie die pryse van noodsaaklike verbruikersgoedere , soos kos en dienste , onregverdig te verhoog nie .
Annette Willemse Kommunikasiespesialis

Dié waarskuwing volg nadat die voedselvoorsieningsketting in Kwazulu-Natal en Gauteng deur gewelddadige protesoptogte , plundery en grootskaalse diefstal by winkelsentrums en pakhuise lamgelê is .

Desondanks die tekorte op winkelrakke in hierdie provinsies , het die minister van landbou , grondhervorming en landelike ontwikkeling , Thoko Didiza , die versekering gegee dat daar genoeg kos in die land is en dat verbruikers nie paniekkosaankope moet doen nie .
Ingevolge die regulasies vir rampbestuur , wat geld sedert president Cyril Ramaphosa in Maart verlede jaar ʼn nasionale ramptoestand weens die Covid-19 pandemie aangekondig het , word die verskaffers van kos en basiese verbruikersgoedere verbied om hul pryse vir winsbejag te verhoog . Dieselfde geld ook vir noodprodukte en -dienste , mediese en higiëniese produkte en noodskoonmaakprodukte en -dienste .
Hewige strawwe , wat wissel vanaf boetes van R1 miljoen of 10 % van ʼn maatskappy se jaarlikse omset of 12 maande tronkstraf , kan opgelê word aan verskaffers wat dié regulasies – soos vervat in artikel 40 en 48 van die Wet op Verbruikersbeskerming ( Wet 68 van 2008 ), verontagsaam .
In die lig hiervan moedig die minister verbruikers aan om die mark te monitor en enige onregverdige prysverhogings van goedere en dienste by die Verbruikerskommissie aan te meld .
* Klagtes kan gestuur word na Complaints @ thencc . org . za
56
SENWES SCENARIO | LENTE SPRING 2021