Senwes Scenario September - November 2021 | Page 47

LANDBOUKUNDIG

Verwagte klimaatstoestande vir die lente en somer van 2021 / 22

Die somer van 2020 / 21 is gekenmerk deur bogemiddelde reënval oor groot dele van die somerreënvalgebied .

Dit was veral die sentrale tot noordwestelike dele van die land waar bogemiddelde reënval voorgekom het gedurende die belangrike produksiemaande vanaf Desember tot Februarie . In distrikte soos byvoorbeeld Bothaville , Wesselsbron en Wolmaransstad is amper dubbel die normale of langtermyngemiddelde reënval vir daardie drie maande gemeet .

Reënval in Suid-Afrika is redelik siklies met agtereenvolgende jare van ondergemiddelde of bogemiddelde reënval . So is die lang droë periodes in die 1960 ’ s ; vanaf 1982 tot 1987 ; 1991 tot 1998 , 2003 tot 2007 asook dié vanaf 2013 tot 2019 nog vars in baie produsente se geheue . Natter periodes het voorgekom vanaf 1973 tot 1976 ; 1988 en 1989 ; 1998 tot 2000 en 2010 tot 2012 .
Die lengte van hierdie droër of natter periodes wissel as gevolg van faktore soos El Nino- of La Nina-verskynsels wat sporadies kan voorkom in enige van hierdie siklusse . Daar is ook ander faktore wat variasie of afwykings veroorsaak , soos byvoorbeeld hoe die seetemperature in die Indiese Oseaan lyk .
Johan van den Berg Onafhanklike Landbouweerkundige
Gedurende 2019 was daar ʼn draaipunt toe veral die oostelike dele van die land baie goeie reënval gekry het en dit daarna weswaarts begin uitbrei het .
HUIDIGE EN VERWAGTE KLIMAATSTOE- STANDE VIR DIE UITGEBREIDE SENWES BEDIENINGSGEBIED
Die ontwikkeling van ʼn tweede agtereenvolgende seisoen met ʼn matige La Ninaverskynsel het ʼn al groter waarskynlikheid . Dit volg nadat daar aan die begin van die winter meer neutrale of gemiddelde toestande verwag is in die Nino-gebiede .
Die waarskynlikheid vir ʼn La Ninaverskynsel om te heers vanaf September / Oktober 2021 tot Maart / April 2022 het verhoog van minder as 50 % in Junie tot 70 % teen die einde van Augustus . Daar is egter nog heelwat onsekerheid oor die intensiteit wat bereik kan word , maar tans lyk dit na ‘ n swak tot matige La Nina , soortgelyk of effens swakker as die intensiteit wat in 2020 / 21 bereik is .
Die ander belangrike faktor wat veral die somerreënvalgebied van Suid-Afrika beïnvloed , is die oppervlaktemperature van die Indiese Oseaan . Wanneer dié oppervlaktemperature van die westelike Indiese Oseaan ( Afrika-kant ) warmer is as die oostelike Indiese Oseaan ( Australiese-kant ), dan ontstaan sterk laagdrukstelsels en tropiese siklone nader aan die Afrika-kuslyn .
Tropiese siklone veroorsaak baie sterk opligting van lug om wolke te vorm binne ‘ n paar honderd kilometer vanaf die middelpunt van die stelsel en veroorsaak gevolglik baie reën . Die droë uitgereënde lug kom dan weer terug na die aarde se oppervlakte in die vorm van ‘ n hoogdrukstelsel wat ongunstig is vir reën . Die omgekeerde is ook waar wanneer die koeler water nader aan die Afrika-kuslyn is , want dit skuif die band van reën vanaf die Indiese Oseaan weswaarts oor Afrika . Dié hoogdrukstelsel domineer nou in die gebied met koeler water en aangrensende vasteland , terwyl laagdrukstelsels veral oor die sentrale tot westelike deel van Afrika ontwikkel . Dit veroorsaak droër toestande oor Oos-Afrika in lande soos Tanzanië , Kenia , Uganda , Somalië en selfs die noordelike dele van Mosambiek . Terselfdertyd veroorsaak vog wat oor Sentraal- en Wes-Afrika suidwaarts beweeg gunstige reënvaltoestande oor Suidelike
Afrika se somerreënvalgebied . Tans is die Indiese Oseaan Dipool ( IOD ) indeks in ʼn negatiewe fase . Dit beteken dat daar koeler waters nader aan die Afrika-kuslyn is . Een van die tekens hiervan is die sardientjies wat vanjaar tot byna in Mosambiek se kuswaters opbeweeg het . Die Indiese Oseaan behoort vir die grootse deel van die somer gunstig te bly vir reënval oor suidelike Afrika .
Alhoewel daar dalk nie ʼn sterk La Nina-verskynsel gaan ontwikkel nie , kan die gekombineerde effek van die Indiese Oseaan en La Nina sorg vir gunstige reënvaltoestande oor die grootse deel van die somerreënvalgebied , veral oor die sentrale dele .
DIE VERSPREIDING VAN REËNVAL Tradisioneel is ʼn La Nina-verskynsel verantwoordelik vir ʼn laat aanvang van die reënseisoen vanaf ongeveer die tweede deel van November oor die sentrale dele van die land . Met die invloed van die gunstige Indiese Oseaan kan die begin van die reënseisoen vanjaar egter vroeër wees . Daar is alreeds tekens van sterk laagdrukstelsels wat begin ontwikkel . ʼn Voorbeeld hiervan is die reën wat in die middelste naweek van Augustus oor die sentrale dele van die land voorgekom het .
SAMEVATTING
Die somerreënvalgebied is tans in ʼn natter siklus , terwyl ʼn swak tot matige La Nina-verskynsel ontwikkel en die Indiese Oseaan se temperature gunstig vertoon . Dit kan gemiddelde tot bogemiddelde reënval vanaf ongeveer die middel van Oktober , maar veral vanaf Desember tot Februarie , veroorsaak .
Dit is positiewe nuus vir somergraanproduksie , maar daar bestaan ‘ n gevaar van oormaat reën en versuiptoestande in veral die watertafelgebiede van die Vrystaat en die Noordwes provinsies .
SENWES SCENARIO | LENTE SPRING 2021 45