Senwes Scenario September - November 2021 | Page 43

NUUS

INSPEKSIEDIENS ONDER SKOOT DEUR VERSKEIE LANDBOUGROEPERINGE

Die stof wil maar net nie gaan lê oor die omstrede aanstelling van ʼn gevolmagtigde inspeksiediens vir voedselstandaarde in die graan- en oliesadebedryf nie .
Annette Willemse Kommunikasiespesialis

Verskeie landbougroeperinge , waaronder die Raad op Verbruikersgoedere , Graan SA , Afma , Sakota , die Meulenaarskamer , Agbiz Grain en die Suid-Afrikaanse Verbruikersunie het appèl aangeteken nadat daar in die Staatskoerant afgekondig is dat die diens in werking moet tree . Die diens sou volgens dié afkondiging op 12 Julie 2021 met werksaamhede begin .

MEER OOR LEAF SERVICES
In 2016 het die departement van landbou , grondhervorming en landelike ontwikkeling vir Leaf Services aangestel om ingevolge wetgewing oor standaarde vir landbouproduktinspeksies in die graan- en oliesadebe- drywe uit te voer .
Met die verloop van tyd is die struktuur van Leaf Services al ʼn paar keer aangepas en is daar probleme ondervind met die samestelling van ʼn werkbare sakeplan .
Ondanks die feit dat daar nie eenstemmigheid bereik kon word oor die samestelling en werksaamhede van Leaf Services nie , is daar nietemin in die Staatskoerant afgekondig dat inspeksies moet begin . In die lig hiervan het verskeie rolspelers appèl aangeteken .
Volgens Daniel Botes , uitvoerende hoof van Leaf Services , bestaan daar spesifieke tydsraamwerke waarbinne appèlprosesse afgehandel moet word en hierdie prosesse het nou ʼn aanvang geneem . Gevolglik sal daar nie met die inspeksiediens begin word voordat dié prosesse afgehandel is nie .
AGBIZ GRAIN Die appèl wat deur Agbiz Grain aangeteken is , is onder meer gebaseer op die organisasie se ontevredenheid oor die wyse waarop die voorgestelde inspeksietariewe bereken sou word .
Volgens Wessel Lemmer , hoofbestuurder van Agbiz Grain , voel die organisasie dat die tarief op volume , met ander woorde tonne , bereken moet word . Dit is dan die laagste koste vir almal in die waardeketting .
Nog ʼn rede waarom Agbiz Grain appèl aanteken is omdat die inspeksieproses volgens die organisasie nie in die praktyk sal werk nie . “ Ons voel in elk geval ʼn inspeksiediens is onnodig . Veral in hierdie omstandighede van Covid-19 en ʼn swak ekonomie moet daar nie ʼn onnodige bykomende geldelike las op die verbruiker geplaas word nie ,” sê Lemmer .
Volgens die kennisgewing wat in Junie in die Staatskoerant gepubliseer is , is die volgende tariewe voorgestel :
• R1,80 p / t vir alle grane en oliesade ,
• R4 p / t vir mielie- en koringprodukte ( brood uitgesluit ),
• 2 sent per brood . Hierdie tariewe sou gehef word by die kopers , invoerders en verwerkers van die produkte , asook by bakkers van brood . BTW moet by al dié tariewe bygereken word .
DIE PAD VORENTOE
Volgens Lemmer bestaan die verwagting dat die appèlprosesse spoedig afgehandel sal word . Indien dit egter nie die geval is nie , voorsien hy dat daar moontlike regsaansoeke om interdikte kan volg .
SENWES SCENARIO | LENTE SPRING 2021 41