Senwes Scenario Oktober / November 2019 | Page 4

ALGEMEEN | GENERAL Redaksiebrief Saamplant aan die toekoms D ie afgelope tyd was dit al hoe meer en meer op die voorgrond dat samewerking deurslaggewend is tot oorlewing en tot sukses, veral in die moeilike tye waarin ons leef. Die politieke landskap, grondkwes­ sies, agendas, laat seisoene, verwoesting en brande wat die media oorheers, laat ons besef dat planne gemaak moet word om die volgende tydperk deur te sien. Senwes HUB Francois Strydom het tydens die pas afgelope Nasie in Gesprek-reeks by Nampo Kaap op die meer positiewe aspekte van ’n krisistyd gefokus - “krisisse aktiveer ons” - en hy het daarby gevoeg dat “Suid-Afrikaners kollektief opportuniste is”. So, dit is in ons aard om op te staan in moeilike tye. Dit is ook belangrik om nie van die kollektiewe te vergeet nie. Kollektief is om saam te doen, mense wat aktief in ’n groep betrokke is, ’n kollektiewe liggaam wat tot stand gebring is en die samewerkings­ooreenkomste wat hieruit spruit. Soms is mense in hul persoonlike hoedanigheid gerat vir die toekoms, maar skiet ver te kort rakende die kollektiewe. Ons almal weet ons Groot Vader plant ons in vrugbare grond, soos ds Willie in die vorige uitgawe aangedui het. So dink ons maklik dat ons stewig gewortel is en nie samewerking nodig het nie. Gaan lees Jeremia 12 vers 17: “As enige van hierdie volke nie wil saamwerk nie, sal Ek hulle wortel en tak laat uitroei!” Die Here het dit gesê - so, al is jy gewortel, kan jy maklik ontwortel word as jy alleen geplant is. Deel dus jou insette, deel jou kennis, want ons is op ’n punt waar ons eenvoudig hande moet vat om ons land gered te kry. Saamplant, die toekoms in! 2 SENWES SCENARIO | SOMER • SUMMER 2019 COLUMN | RUBRIEK Uit die Woord Saai die goeie saad… Lees: Matt. 13:24-30; 36-43 Ds. Willie Botha In die Bybel is dit opmerklik hoe belangrik beelde uit die landbou vir die verkondiging van die Evangelie was. Dit was immers ’n agrariese samelewing en daarom sou die meeste mense Jesus se diepsinnige leringe beter verstaan met die gebruik van beelde uit hulle verwysingswêreld. Matteus 13 is een van die belangrikste hoofstukke in Matteus. As’t ware is die Koninkryk van God die skarnierpunt waarom die Evangelie draai. Maar van hier af vind daar ook ’n wending plaas. Die klem skuif van hoofstuk 13 af al meer na die dissipels en Matteaanse gemeente, terwyl die skare en groepe in die eerste gedeelte van die boek die grootste aan- dag kry. Koring is al in die Neolitiese tydperk (8300-4500 vC) verbou. Saam met gars was dit die belangrikste graansoort in Palestina. As voedsel is koring rou en halfgaar geëet. Die meeste is egter gemaal en as “meelblom” tot brood verwerk. Nodeloos om te sê was koring dus ’n tipe stapelvoedsel wat ook in die brood van die Onse Vader gebed tot uiting kom. Die belangrike saak van die Koninkryk van God word met die belangrike graan, koring, in verband gebring. Goeie saad was onontbeerlik. Nie net gebruik onkruid van die kosbare vog wat vir die koring bestem is nie, maar dit bemoeilik die oes van die graan. Derhalwe sou ’n boer in die antieke tyd geen moeite ontsien om goeie saad in die hande te kry nie. Met die goeie saad wat die boer gesaai het, kom die goeie red- dingswerk wat deur Jesus gedoen word na vore. Sy sending na die wêreld om mense te verlos, maar ook Sy aardse lewe getuig van die goeie voorneme van die boer. Hy doen alles in sy vermoë om die oes die beste moontlike kans te gee. Daar is egter steeds die bose en mense wie se agenda dit is om die goeie werk tot niet te probeer maak. Hulle bring die oes in gedrang. Die wysheid van die boer seëvier egter. Hy sien in dat dit die maklikste en die min- ste skade sal veroorsaak om te wag tot en met die oes. Behalwe vir die verwysing na die Koninkryk van God, sê die gedeelte ook iets van die Matteaanse, sowel as elke gemeente tot vandag. In dieselfde gemeente tref mens gelowiges, sowel as skyn­gelowiges aan. God self sal tydens die oes (die oor- deelsdag) die skeidingswerk doen. Gelowiges van alle tye se taak bly die verspreiding van die goeie saad. ’n Tema wat die Bybelgenootskap met sy blad, Die Saaier, verder voer. Dit is die werk van die Kerk om mense vir die Koninkryk te versamel, die oes op te pas, en vir hulle ’n positiewe ruimte van groei, gebor- genheid en liefde te bied. Dit is lente, en lente is planttyd. Elke boer sal keursaad van die hoogste gehalte gebruik. Benut ook die seisoen om die goeie saad van die Woord te saai. Welwetend dat daar uiteindelik ’n oes is waarna ons Hemelse Vader uitsien.