Senwes Scenario Oktober/November 2018 | Page 42

NUUS Grondberaad baan die weg vorentoe Opkomende produsente lug hul menings Die onlangse Landbouweekblad en Agri SA Grondberaad wat in Augustus in Bela-Bela plaasgevind het, het voorwaar die weg gebaan vir gesprekvoering en vir produsente om hul unieke verhale te vertel.  Deur Aubrey Kruger Senwes Scenario Redakteur D it was ook hier waar Senwes Bestuurder: Ontwikkelende Produsente, Julias Ramohlabi, die geleentheid raakgesien het om 10 van sy ontwikkelende produsente na die baanbrekerberaad te neem, waar hulle deel van 600 produsente en sakelui was wat geluister het na 65 sprekers wat hulle landboustories kon vertel. Ramohlabi en sy produsente Phillimon Mnenzhe, Herbert Mabuza, Simon Teffo, Israel Motlhabane, die Mabaso broers Bootman en President, Ngengwana Marshall Tsokolo, Mokhele Pheello Isaac asook Anna Phosa het die beraad saam bygewoon. Die enigste vrou in hierdie geselskap het die grondberaad ten volle tot haar voordeel gebruik. Anna Phosa het met meeste van die sprekers en besoekers tydens die geleentheid gekommunikeer en haar netwerk in die proses uitgebrei. “Ek het selfs met die president van Agri SA, Dan Kriek gesels en ook ander leiers in die bedryf ontmoet,” sê sy opgewonde. Vir haar het die beraad haar oë oopge- maak dat wit en swart produsente wel saamwerk om grondkwessies op te los. “Iets wat voorheen heeltemal te sensitief 40 SENWES SCENARIO | SOMER 2018 was om oor te praat,” verklaar sy. Dit het baie van die mense laat dink aan die goeie verhouding tussen dr. Theo de Jager (President van die Wêreld Landbou-organisasie) en Whiskey Kgabo, ‘n mangoboer naby Tzaneen, met Kgabo wat verklaar het, “Ek was sy mentor. Ek het hom geleer boer,” wat ‘n bewys is dat produsente reeds jare gelede al saamgewerk het. Baie swart boere was ook van mening dat alle produsente “hand-aan-hand met die regering kan saamwerk.” Israel Motlhabane het agtergekom dat hy “mega­ nies ‘n bietjie agter is,” veral as hy homself met van die groter produsente vergelyk. Ramohlabi verwys dat dit juis hier is waar die regering aan boord kan kom om die opkomende produsente by te staan en dat hulle wel ’n rol hier kan vervul. Sommiges soos Ralph Swart, ’n Overbergse produsent, het tydens die beraad genoem: “My oupa het op 70 akker geboer, my pa op 110 morg en ons boer vandag op 2 440 hektaar.” Vir Simon Teffo wat in Randfontein boer, het daar net nog meer vrae ontstaan. “Ek wil graag weet hoe hierdie produsente dit reggekry het. Ek is tans besig om ’n persoon op te lei - wie gaan vir hom die geld leen?” Hy sou graag die geleentheid wou kry om vrae te vra om duidelikheid te kry oor hoe ander produsente dit reggekry het om suksesvol plase te bekom. Sy toe- komsvisie vir die beraad is dat dit ook na die ander provinsies uitgebrei moet word sodat nog meer hiervan bewus is. Ramohlabi self is ook baie positief oor die grondberaad en noem: “Ek was reg- tig baie beïndruk deur die suksesstories vanuit al die provinsies.” Hy noem dat daar talle goeie verhale vertel is. Dit was ook goed om te sien hoe die kommersiële produsente met opkomende produsente saamwerk deur vennootskappe of aandele. “Dit was regtig grondverskuiwend in die sin dat ons nou weet dat positiewe dinge oral in landbou gebeur, selfs in ander provinsies.” Iets waarvan hulle soms onbewus is. Dit was ’n uitstekende beraad wat goed bygewoon is deur onder andere die adjunk-president David Mabuza en talle ander wat verdere status daaraan verleen het. Mabuza het selfs ‘n pleidooi gelewer dat produsente die regering moet vertrou wanneer dit by grondhervorming kom. Welgedaan Landbouweekblad en Agri SA, en dankie vir die produsente se dap- perheid om jul verhale te vertel. Dit was baanbrekerwerk vir die pad vorentoe en voorwaar ‘n keerpunt rakende die grond- debat in Suid-Afrika.