Senwes Scenario Oktober / November 2017 | Page 34

••••
NUUS

Reënvalvooruitsigte vir die volgende maande

32
JOHAN VAN DEN BERG SANTAM LANDBOU
HUIDIGE TOESTANDE Die eerste ligte somerreënval het sedert die tweede gedeelte van Augustus oor die oostelike en noordoostelike dele van die somerreënvalgebied voorgekom . Verdere ligte neerslae het ook oor die Wes- en Suidkaap voorgekom , maar dit was nie voldoende om die droogte te breek nie . Augustus is gekenmerk deur baie sterk en aanhoudende winderige toestande oor die grootste deel van die land wat “ normaal ” is vir dié tyd . Dit is tipies van die oorgang van seisoene met koue fronte wat baie vinnig oor die land beweeg het .
In Oktober is daar steeds ’ n gevaar van ryp en koue toestande vir koring en vrugte in veral produksiegebiede soos die Noord- Kaap se besproeiingsgebiede . Somergewasaanplantings gaan eers vanaf Oktober begin plaasvind .
EL NIÑO EN INDIESE OSEAAN Luidens die nuutste voorspellings gaan neutrale of gemiddelde see-oppervlaktemperature in die Sentrale Stille Oseaan ( beslis nie El Niño nie ) steeds tot ten minste die einde van die jaar heers .
Indien dit sou gebeur , lyk dit byna na dieselfde patroon as in 2016 / 17 . Die Suidelike Ossilasie Indeks ( SOI ) wat ’ n klimatologiese aanduiding is van die stand van see-oppervlaktemperature in die Stille Oseaan , was teen einde Augustus positief wat meer La Niña-neigende toestande aandui .
Die belangrike Indiese Oseaan see-oppervlaktemperature neig
OKT / NOV 2017 • SENWES Scenario
ook na neutrale of gemiddelde toestande alhoewel dit nog baie vroeg in die seisoen is en vinnige veranderings nog kan plaasvind .
REËNVAL Min reën word verwag oor die grootste deel van die somerreënvalgebied vir die eerste gedeelte van Oktober . Voorspellings dui egter dat toestande kan verbeter vir reën oor die sentrale tot oostelike dele van die somerreënvalgebied vanaf die tweede gedeelte van Oktober 2017 . Met die laaste plantdatums vir mielies in Mpuma langa teen middel November behoort reën betyds te kom , maar dit gaan heel waarskynlik weer sorg dat aanplantings meer na die einde van die plantvenster gaan plaasvind .
Vir die sentrale tot westelike dele lyk dit asof plantreën betyds behoort voor te kom voor die einde van November . Alhoewel grondwatertoestande dalk nie optimum is nie , is dit baie beter as verlede seisoen die ooreenstemmende tydperk en kan 30-100mm in baie gevalle genoeg wees om te kan plant . Met die veranderde neiging meer na Neutrale en selfs La Niña-toestande tesame met redelik goeie grondwatertoestande , lyk die produksiepotensiaal vir somergewasse redelik goed .
Indien reën wel teen die einde van Oktober 2017 begin voorkom oor die somergraangebied , kan dit ’ n aanduiding wees van droë en warmer toestande op die tradisionele midsomerdroogtetyd rondom middel Desember tot middel Janu arie oor die sentrale tot westelike dele en meer rondom Februarie oor die oostelike produksiegebiede .
In die algemeen lyk dit nie of daar ekstreme droë toestande verwag kan word nie , hoewel daar gewoonlik gedurende ’ n seisoen ’ n droë en warm periode gaan wees . Die droogste periode behoort nog in die eerste deel van Oktober en in midsomer te wees .
WAT GAAN ONS PLANT ? Die oorskot aan veral mielies , plaaslik sowel as internasionaal , het veroorsaak dat graanpryse baie laag is . Daar word bereken dat teen huidige mieliepryse , produsente ongeveer 30-40 % bo gemiddelde opbrengste moet behaal in 2017 / 18 om insetkoste te verhaal . Dit is dus krities om nie swakker lande te plant nie en net na goeie potensiaal lande te kyk waar daar seker gemaak word dat goeie opbrengste behaal word . Alhoewel sojabone en sonneblom alternatiewe gewasse is , is dit ook nie ’ n opsie om op grootskaal verskuiwings na hierdie gewasse te doen nie , want elke gewas het sy eie unieke produksiepraktyke , probleme en markbeperkings .
Dit is dus uiters belangrik dat die oespotensiaal vanjaar beskerm moet word om bogemiddelde opbrengste te kry . Skade weens droogte , insekte , siektes of hael sal nie bekostig kan word nie .
VRYWARING : Die inligting vervat in hierdie verslag word op eie risiko gebruik en die opsteller / Santam of enige ander persoon / instansie genoem in hierdie verslag neem geen verantwoordelikheid vir die akkuraatheid of toepaslikheid / interpretasie van inligting wat in hierdie verslag vervat is nie .