Senwes Scenario Oktober / November 2016 | Page 59

KOS VIR DIE SIEL •••
•••••••

God lig op

LEES : Markus 5:36-43
DS . WILLIE BOTHA
‘ N RAADSLID VAN DIE SINAGOGE HET BY JESUS AANGEKOM EN VOOR HOM NEERGEVAL . ‘ N MENS KAN SY DESPERAATHEID , ANGS EN DRINGENDHEID HOOR WANNEER HY SÊ : “ MY DOGTERTJIE LÊ OP HAAR UITERSTE . KOM LÊ TOG U HANDE OP HAAR , SODAT SY KAN GESOND WORD , EN LEWE .”

Jesus het dadelik saam met hom gegaan . Terwyl Jesus nog op pad was , kom van Jaïrus se mense met die gevreesde tyding daar aan . Sy dogtertjie is nou net oorlede . Die laaste bietjie hoop wat hy gehad het , word verpletter . Jesus stel hom egter gerus : “ Moet jou nie ontstel nie . By maar net glo !”

By Jaïrus se huis was dit chaos . Professionele roubeklaers het tydens sterftes by huise opgedaag . Die mense was histeries . Die roubeklaers wat op fluite gespeel en hande geklap het , het die tragiek van die oomblik beklemtoon . Toe Jesus opmerk dat die dogtertjie net slaap , word Hy uitgelag . Die dood was immers vir hulle onmiskenbaar .
In die binnekamer het Hy die kind aan haar hand geneem en gesê : “ Talita , koemi !” Dit beteken : “ Dogtertjie , Ek sê vir jou , staan op !” Sy het dadelik opgestaan en begin loop . Dat sy kon loop en dat sy iets te ete moes kry sou vir die mense ’ n teken wees dat sy weer gesond was en lewe .
In die verhaal leer ons dat Jesus se bomenslike krag onmiskenbaar is . Jesus is in staat om situasies wat menslik hopeloos lyk , te verander . Situasies so hopeloos soos die dood . Die opwekking van die dogtertjie se dood eggo die belangrike boodskap van Markus : “ die Koninkryk van God het naby gekom ”.
Lyding is deel van die lewe . Markus is in sy beskrywing van die evangelie ‘ n realis . As Jesus , wat die Seun van God is , so bitterlik moes ly , moet Jesus se volgelinge ook weet dat lyding nie noodwendig by Christene verbygaan nie . Dit is egter van ontsaglike belang dat in hierdie lyding Jesus nie afwesig is nie .
Die verhaal wil ook die rol van geloof beklemtoon . Ons is geneig om ons geloof te verskraal tot “ Jesus het vir ons sondes gesterf ”. Geloof het ook ’ n ander kant . Ons sien in Jaïrus ’ n mens wat by die einde van menslike vermoëns en oplossings gekom het , en in geloof sy hand na Jesus uitstrek in die verwagting dat Hy kan help . Tans leef ons in ’ n tyd waarin ons geweldige vertroue in kundigheid en tegnologie stel . Dalk moet ons weer hierdie faset van geloof herontdek .
In hierdie verhaal verander Jesus menslike desperaatheid , angs en smeking na verwondering - van uitgelag word na stomheid van verbasing . Jaïrus se naam is die Griekse weergawe van Jaïr , en dit beteken , God lig op .
Die lyding van hierdie wêreld word ons nie weerhou nie , maar as ons nie meer weet waarheen om te gaan nie , leer die verhaal ons dat Jesus ons uitgestrekte hand van geloof nooit wegwys nie .
SENWES Scenario • OKT / NOV 2016 57