Senwes Scenario March-May 2022 | Seite 6

NUUS

NAMPO

2022

PROGRAM STREK OOR VYF DAE

Terwyl die span van Graan SA wag om terugvoer te kry van die regering oor sy aansoek om die Nampo-oesdag 2022 aan te bied , het die organisasie aangekondig dat dié oesdagprogram vanjaar oor vyf dae sal strek .
Annette Willemse Kommunikasiespesialis

Na twee jaar sonder Nampo sal die Nampo-oesdag vanjaar van 16 tot 20 Mei aangebied word .

Volgens ʼn verklaring in hierdie verband gaan die span volstoom voort met reëlings om die Nampo-oesdag vanjaar te kan aanbied , hoewel die organisasie steeds wag op terugvoer van die nasionale korona-bevelsraad oor sy aansoek om die geleentheid aan te bied . “ Die uitwerking om sedert 2019 nie die Oesdag op Nampo Park te kon aanbied nie , het verreikende gevolge nie net vir die organisasie gehad nie , maar ook vir die omliggende dorpe . Die plaaslike distrik , wat nog nie heeltemal van die buitensporige waterskade in Januarie herstel het nie , maak staat op die ekonomiese en finansiële inspuiting wat die Oesdag meebring ,” sê dr Dirk Strydom , Graan SA se hoof van bemarking , Nampo en navorsing .
In oorleg met uitstallers het meer as 80 % aangedui dat dit nodig is om die Oesdag in Mei 2022 aan te bied , en hulle was dit eens dat ʼn ekstra dag in die skedule broodnodige sakegeleenthede kan byvoeg . Volgens die verklaring bied Nampo , met sy byna 800 uitstallers , dié platform om met die landboubedryf se top belanghebbendes te netwerk , vriendskappe en verhoudings te versterk en te geniet wat hierdie unieke vertoning bied binne ʼn rustige plaas-atmosfeer .
Volgens Danie Minnaar , voorsitter van die Nampo-oesdag , is die beste tegnologie en kennis vir produsente om volhoubaar te boer by Nampo te vinde . “ Al bly die landbou onder aansienlike druk , het boere steeds genoeg geesdrif vir boerdery om elke aspek van die landbou wat die Oesdag bied , te verken ten einde mededingend en relevant te bly .”
Die afwesigheid van die Oesdag het die belangrike rol wat dit speel om netwerkvorming in die landbousektor moontlik te maak , beklemtoon . “ Om regeringsverteenwoordigers en belanghebbendes uit die landbouwaardeketting te ontvang , bied geleentheid vir belangrike en soms moeilike gesprekke in ʼn omgewing wat bevorderlik is vir en gemik is op die bevordering van die sektor plaaslik en regdeur Afrika , suid van die Sahara ,” sê dr Pieter Taljaard , Graan SA se uitvoerende hoof .
Besonderhede rakende kaartjieverkope en toegangstye sal mettertyd bekend gemaak word .
4
SENWES SCENARIO | HERFS AUTUMN 2022