Senwes Scenario March-May 2022 | Page 30

Kos vir die siel
RUBRIEK | COLUMN IN THE KITCHEN | IN DIE KOMBUIS

Kos vir die siel

ANNERLIKHEID Bron : Liewe Persoon Blog

My wieletjies is pap . En ek praat nie nou van die tuna-wiele wat ek gisteraand probeer maak het nie . Ek praat van my innerlikheid … ek het skoon ʼn bewekoors !

In Griekwaland-Wes praat die mense van ʼn ‘ dikbomeman ’ as hulle na ʼn verkeersbeampte verwys , en met hierdie woeling in my binneste kan ek my amper verbeel hoe ʼn ‘ dikbomeman ’ moet voel : so oorbodig soos ʼn volgesuipte muskiet by ʼn Vrydagaand-braai . Jy sien , dis die geneuk met annerlikheid . Jy is óf êtepetête ( aanstellerig en vol fiemies ), ʼn randfiguur wat jouself stom hou en onopsigtelik probeer oorleef , óf ʼn Blink Stefaans vir wie die lewe afspeel met ʼn glas vonkelwyn in die hand , ʼn goue ketting om die nek en ʼn Bles Bridges treffer as agtergrondmusiek .
Annerlikheid sit nie aldag lekker aan die lyf nie , en dit veroorsaak ʼn ellendige geween en gekners van tande . Die met geld soek meer . Die sonder geld maak planne . Die met Duitse motors koop Continental en die met oorle ’ Pa se 1971 Datsun – die een met die roesplek op die enjinkap , soek naarstiglik na ʼn stel decent rethread tyres .
Annerlikheid laat party mense soos ‘ n million bucks voel , terwyl ander bid vir pouse . Party mense is gemaklik in hul annerlikheid ; hulle loop te koop daarmee , stig komitees en rade ter ere van hul annerlikheid en sommiges vier selfs hul annerlikheid met ink op hul lywe en ringetjies op plekke waar die son nie aldag skyn nie . Daar is diesulkes wat hul annerlikheid ten alle tye wil bedek . Wegsteek . Selfs ontken . Ek worstel soms met my annerlikheid . Dis nie aldag maklik om heeldag te smile and wave nie : ek dra my hart op my mou en my nerf is dunner as dié van ʼn polonieskil .
Paasfees is op hande – en skielik saai die duiwel annerlikheid in my gemoed : twyfel , kommer en hartseer . Dit terwyl die annerlikheid van Jesus juis in hierdie tyd vir ons elkeen tot seën moet wees . ʼn Salwing wat alle verstand te bowe gaan . ʼn Fees van ʼn annerlike liefde wat geen verstand kan begryp nie .
Annerlikheid is ʼn doringkroon . Dit is ʼn kruishout op Golgota . Annerlikheid oorwin die dood . Dit is ʼn leë grafkelder . Annerlikheid is genade . Genade , onbeskryflik groot .
Dit is my gebed vir hierdie Pase : ʼn gees van God-vervulde annerlikheid . Vandag . Môre , en al die dae van my en jou lewe .

Krummel-appeltert

By Dirty Spice
Soos die blare stadig hul heldergroen baadjies vir skakerings van sand en skarlaken verruil , maak die koeler oggende en korter dae ons daarvan bewus dat die herfs hier is . As dit kom by kos , is herfs so ʼn tussenin-typerk : dit vul die gaping tussen die tropiese vrugte en vars slaaie van die somer en die ryk , warm geure van die winter .
Met die herfs nou weer op ons voorstoep , raak ons opnuut lus vir die ryker seisoenale vrugte soos granate , pere , kwepers , vye , appels en appelliefies .
BESTANDDELE
Kors
• 120 g botter
• 125 ml ( ½ k ) suiker
• 1 eier
• 2 ml ( ½ t ) vanieljegeursel
• 500 ml ( 2 k ) koekmeel
• 10 ml ( 2 t ) bakpoeier
• knippie sout
Vulsel
• 1 blik ( 385 g ) tertappels
• 30 ml ( 2 e ) bruinsuiker
• fyn kaneel vir oorsprinkel
Voorverhit die oond tot 200 ° C . Smeer ’ n tertpan of veerklamppan van 24 cm .
METODE Kors : Verroom die botter en suiker saam tot lig en donsig . Voeg die eier en vanieljegeursel by en klits goed . Sif die meel , bakpoeier en sout saam en roer by die mengsel in om ’ n sagte deeg te vorm . Draai die deeg in waspapier toe en laat 20 minute in die yskas rus . Deel die deeg in 2 helftes . Druk die een helfte op die boom van die pan vas en plaas 20 minute in die yskas .
Vulsel : Meng die tertappels en suiker en skep oor die deegkors . Sprinkel ’ n bietjie kaneel bo-oor . Rasper die res van die deeg bo-oor en bak 25 minute in die oond tot goudbruin .
28
SENWES SCENARIO | HERFS AUTUMN 2022