Senwes Scenario March-May 2022 | Page 21

LANDBOUKUNDIG

RUVASA

TOESTANDE GUNSTIG VIR DIE UITBREKING VAN SLENKDALKOORS

Toestande is gunstig vir ʼn uitbreking van slenkdalkoors en boere word gewaarsku om waaksaam te wees vir hierdie en ander veesiektes wat weens baie reën ʼn gevaar vir boere inhou .
Annette Willemse Kommunikasiespesialis

Só meen dr Faffa Malan , bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika ( Ruvasa ) na aanleiding van die organisasie se maandelikse verslag oor die voorkoms van veesiektes . Volgens Malan is panne , damme en vleie oral tot boordens toe vol en dit skep omgewingstoestande wat gunstig is vir die uitbroei van muggies en muskiete , wat virussiektes soos slenkdalkoors , bloutong , Wesselsbronsiekte , Afrika-perdesiekte , drie-dae-stywesiekte en Wesnyl-koors veroorsaak .

Die slenkdalkoorsvirus tas skape , bokke , beeste en selfs buffels aan , en omdat SDK ʼn Soönose is , kan mense ook besmet raak . Besmetting van mense vind hoofsaaklik plaas wanneer hulle siek of dooie diere hanteer , en daarom word dit as ʼn aanmeldbare siekte geklassifiseer .
INENTING EN ENTSTOWWE BIED BESKERMING
Produsente word aangeraai om hul diere so gou as moontlik in te ent in ʼn poging om die siekteverspreiding te voorkom . Verskeie geregistreerde produkte is ook beskikbaar om muskietbyte te verhoed en sluit dippe , spuitmiddels en opgietmiddels , waarin die aktiewe bestanddeel deltametrien voorkom , in .
SIEKTETEKENS BY VEE
Lammers en bokkies onder die ouderdom van twee weke is baie vatbaar en hulle word binne 24 tot 72 uur na besmetting siek . Siektetekens sluit in ʼn hoë koors , lusteloosheid en ʼn gebrekkige eetlus .
Ander simptome sluit in : traagheid om te loop , buikpyn , vinnige asemhaling , naarheid , slegruikende diarree en soms ook geelsug . Dragtige ooie aborteer en die geaborteerde fetus onbind vinnig .
SENWES SCENARIO | HERFS AUTUMN 2022 19