Senwes Scenario March-May 2022 | Page 17

LANDBOUKUNDIG

ROLSPELERS

GEKANT TEEN

REGULERING VAN

TEELTEGNIEKE

ʼn Besluit dat nuwe teeltegnieke aan dieselfde streng regulasies as vir geneties gemodifiseerde organismes ( GMO ’ s ) onderwerp gaan word , het hewige reaksie vanuit verskillende oorde binne die landbousektor ontlok .
Annette Willemse Kommunikasiespesialis

Die Landbousakekamer Agbiz , die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie , Sansor , en die chemikalieë-bedryfsliggaam , CropLife SA , het gevolglik appèl aangeteken teen die besluit wat deur die uitvoerende raad vir die GMO-wet geneem is . Dié besluit is in Oktober geneem en behels dat die bestaande risiko-ontledingsraamwerk vir GMO ’ s ook vir produkte van nuwe teeltegnieke soos genoomredigering moet geld .

In die appèl , onder leiding van Agbiz , vra bedryfsvennote dat die regulering van produkte wat deur nuwe teeltegnieke ontwikkel word , op die wetenskap gegrond moet word . Volgens die bedryfsvennote strook die Suid-Afrikaanse reguleerder se GMO-definisie nie met ʼn wyd aanvaarde beginsel dat produkte van nuwe teeltegnieke nie anders gereguleer moet word as hulle identies is aan , óf nie onderskei kan word van produkte wat deur natuurlike of konvensionele teeltegnieke verkry kon word nie .
Die klaers waarsku dat Suid-Afrika se besluit om al hierdie produkte as GMO ’ s te reguleer nie net wye implikasies vir Suid-Afrika en plaaslike innovasie sal inhou nie , maar ook vir die internasionale handel in produkte wat deur nuwe teeltegnieke ontstaan het . Op die keper beskou kan ongelykmatige regulering volgens die bedryfsvennote tot voedselonsekerheid en aansienlike handelsversperrings tussen Suid- Afrika en sy handelsvennote lei .
In ʼn verklaring wat in die verband uitgereik is , stel die bedryfsvennote dat die huidige benadering oor regulering ook die ontwikkeling en benutting van nuwe tegnologie ontmoedig binne die Suid-Afrikaanse navorsingsomgewing . Dit sluit plaaslike saadmaatskappye , openbare en akademiese navorsingsliggame en klein sowel as mediumgrootte innoveerders in .
Nog ʼn aspek wat kommer wek is die feit dat dit bykans onmoontlik sal wees om te bepaal of genetiese veranderinge deur konvensionele teling , natuurlike mutasies of deur ʼn nuwe teeltegniek geskep is . Die uiteinde hiervan is dat dit baie moeilik sal wees om nuwe produkte te toets en te klassifiseer . Volgens Agbiz sal dié tendens onoorkomelike hindernisse tussen handelsvennote skep , want dit is onwaarskynlik dat daar ʼn omvattende lys van produkte in die globale waardeketting beskikbaar sal wees , wat aandui dat hulle deur nuwe teeltegnieke ontwikkel is .
* Die artikel het oorspronklik in Landbou . com verskyn .
SENWES SCENARIO | HERFS AUTUMN 2022 15