Senwes Scenario March-May 2022 | Page 16

LANDBOUKUNDIG

BEPLAN DEEGLIK OM DILEMMA VAN DUUR KUNSMIS TE BESTUUR

“ Ons het nie die luukse om vir twee tot drie jaar oor die dilemma van kunsmispryse te praat nie . Ons beleef ʼn krisis en ons moet dadelik tot aksie oorgaan !”
Annette Willemse Kommunikasiespesialis

So gesels Louis Strydom , bemarkingsdirekteur van Omnia Fertiliser . Strydom het tydens ʼn paneelbespreking by Graan SA se jaarkongres gesê dat produsente betyds moet beplan ten einde werkbare oplossings vir dié uitdaging te vind vir die volgende somergraanseisoen .

“ Wat noodsaaklik is , is dat jy ʼn plan het – hetsy om te sê ek gaan my posisioneer vir 60 % van wat ek gaan plant en risiko neem op die res , of besluit jy gaan jou fosfaat en kalium of jou plantermengsel koop , en jou ammoniumnitraat los vir later , want jy kan dit met ureum vervang . Hoe dit ook al sy , jy moet ʼn plan in plek hê .”
Volgens Strydom berei produsente in die Noordelike Halfrond hulle voor om somergrane te plant en hulle hou ook die stygende kunsmispryse fyn dop . “ Almal is laat . Nou het pryse omgedraai en die vraag is wat gaan nou gebeur . Vir produsente in die Wes-Kaap en die wintergraanstreek is dit net so ʼn moeilike situasie . As jy vandag nie kunsmis in die Wes-Kaap het nie , gaan jy die plantseisoen misloop – dit is die harde werklikheid ."
Volgens André Kirsten , voorsitter van Graan SA se inset- en produksiewerkgroep , wat ook aan die paneelbespreking deelgeneem het , is die boodskap van die noodsaaklikheid van goeie beplanning reeds vroeg deurgegee aan wintergraanprodusente . Produsente is gemaan om hul kunsmis vir planttyd vroeg te koop , want kunsmismaatskappye se bestellings was reeds geplaas en pryse vir daardie kunsmis sou nie daal nie .
IMPAK VAN DIE KONFLIK TUSSEN RUSLAND EN DIE OEKRAÏNE
Rusland is een van die grootste produsente van stikstof en die huidige konflik tussen Rusland en die Oekraïne het ʼn reuse styging in die prys van stikstof veroorsaak . Dit volg nadat die prys van stikstof net besig was om te normaliseer .
Kirsten het verduidelik dat volgens sy berekeninge , moet ʼn Wes-Kaapse koringprodusent weens die toename in kunsmispryse vanjaar 600 kg / ha meer koring oes as verlede jaar om gelyk te breek of die produsent moet tevrede wees met 600 kg / ha minder se inkomste . Hy het voorts produsente in marginale gebiede gemaan om mooi na te dink oor wat hulle gaan plant .
Produsente wat ʼn opbrengs van 2 t / ha tot 3 t / ha behaal , moet vanjaar ook baie mooi dink oor of dit die moeite werd is om te plant . “ Jou marges raak nou so klein . Jy plant met ʼn sekere veronderstelling en dan gaan die prys van stikstof en kunsmis dalk op . Dan moet jy dalk 1 t / ha meer produseer . Dit is die situasie waarin ons onsself nou bevind .”
14
SENWES SCENARIO | HERFS AUTUMN 2022