Senwes Scenario March-May 2022 | Page 28

JAG

MOET EK HERLAAI OF NIE ?

Ek moet almal waarsku voor ons begin : om te herlaai is lekker en dit kan gou in ʼn stokperdjie ontaard .
Deur Jaco Kruger Wapenspesialis

Moet ek herlaai of nie ? Die vraag wat jy jouself moet vra is wat presies jou doel met herlaai is . Wat is die doel van herlaai ?

Almal dink dit is goedkoper om te herlaai , dit is so , maar ons mans kan mos nie aldag somme maak nie . Onthou : die aanvanklike ka- pitaal wat gespandeer is op die herlaaitoerusting moet in jou somme bygevoeg word .
• So , as ek herlaai en slegs so 50 skote per jaar skiet , dan gaan die somme nie klop nie . Gekoopte ammunisie gaan jou beslis goedkoper uitwerk .
• As ek byboorbeeld 1 500 skote per jaar skiet lyk die somme heel anders . Ek herlaai vir ander redes , en nie bloot slegs om kostes te bespaar nie .
• Deur te herlaai kan jy die vuurwapenpatroon die mees akkuraatste vir jou spesifieke wapen maak . En , met elke rondte wat jy herlaai het jy dieselfde akkuraatheid , dus ook groter voorspelbaarheid .
• Ek kan herlaai wanneer ek wil , en hoef nie te stres oor voorraad by die winkels nie .
• Ek kan my beplanning beter doen .
• Herlaai is lekker ! Daardie gevoel as jy skiet na die teiken of bok en die skoot tref presies daar waar jy gemik het , word nie maklik oortref nie . Uit bogenoemde is dit duidelik dat die voordeel van my goedkoper herlaaide ammunisie -teenoor die duurder fabrieksammunisie , lankal nie meer die enigste rede is waarom ek ammunisie herlaai nie !
Die gebruik van my eie herlaaide ( spesiale ) ammunisie het oor die jare aan my baie bevrediging verskaf en doen dit steeds . Verder glo ek graag dat my ammunisie meer akkuraat en meer konstant is as fabrieksgelaaide ammunisie . Hierdie vertroue in jou eie ammunisie dra onmeetbaar by tot die selfvertroue waarmee jy
elke skoot skiet . Jy weet wat die resultaat gaan wees want jý alleen was verantwoordelik vir die samestelling van die voltooide produk en die aanwending daarvan .
HOE MOET EK BEGIN OM TE HERLAAI ?
My raad aan almal is doen ʼn kursus of wend jou tot jou plaaslike skiet-organisasie . Ek is ʼn lid van die SAJWV en gaan hulle as ʼn voorbeeld gebruik .
By jou organisasie sal daar baie inligting beskikbaar wees asook baie ervare skuts wat al jare lank self herlaai . Maak vriende met iemand daar en vra hulp en leiding . Moet egter nie na almal luister nie , want elke persoon laai anders en het ander raad . Kies vir jou een mentor en luister na hom en volg sy raad . Jy is dalk be- vriend met ʼn skut wat al jare self herlaai , doen jouself ʼn guns en gaan kuier by hom . Vra vrae en kyk wat hy doen .
Daar is ook baie goeie kursusse wat aangebied word , maar weereens bly by een ervare persoon . My raad is dat jy ʼn persoon sal kies waarmee jy gemaklik is en wie se metodiek jy maklik kan aanleer .
WENKE VIR HERLAAI
• Gebruik sistematiese en erkende prosesse met die herlaai van ammunisie .
• Gebruik betroubare herlaai data ( dryfmiddeltabelle moet altyd nagevolg word ). Bly weg van Jan Alleman se raad en onthou dat elke vuurwapen anders is .
• Laai jou ammunisie self .
• Herlaai kan gevaarlik wees en daarom moet jy nie kortpaaie volg nie .
HERLAAI TOERUSTING
Kyk mooi na watter tipe en gehalte herlaaitoerusting beskikbaar is vóór jy dit aanskaf . Afhangende van jou begroting , koop eers net die basiese stukke wat jy benodig , maar soos met enige gereedskap wat jy beplan om oor ’ n lang periode te gebruik , belê in gehalte . My basiese stukke herlaaitoerusting is reeds meer as 20 jaar in gebruik .
Begin jou herlaai “ loopbaan ” aanvanklik met die basiese toerusting , vuur daardie herlaaide ammunisie in jou vuurwapen , beoordeel jou herlaaiprosesse aan die hand van die resultate en maak aanpassings waar nodig tot die resultate aan jou vereistes voldoen .
Sodra jy begin om self te herlaai sal ʼn nuwe wêreld van skiet vir jou oopgaan .
Akkuraatheid , lading ontwikkeling , langafstand skiet , kompetisies en selfs jag raak alles net beter en lekkerder – glo my !
Hinterland beskik oor ses wapentakke waar jy kan aanklop om hulp .
• Bothaville 056 515 2181
• Potchefstroom 018 297 5381
• Vereeniging 087 945 5838
• Bultfontein 056 853 1141
• Kroonstad 056 216 0700
• Hartswater 053 474 9600 * Jaco Kruger het sy nasionale kleure in bankrusskiet gekry en het Suid-Afrika reeds verskeie kere verteenwoordig . Hy is ook ʼn nasionale MDS-skut , ʼn aktiewe veldskiet skut en ʼn lid van die SAJWV .
26
SENWES SCENARIO | HERFS AUTUMN 2022