Senwes Scenario March-May 2022 | Page 18

FINANSIES

BEGROTINGSREDE 2022

SO SIEN LANDBOU DAARUIT

Die minister van finansies , Enoc Godongwana , meen hy is glad nie paniekbevange nie en glo dat die land oor die vermoë beskik om dinge ten goede om te keer .
Annette Willemse Kommunikasiespesialis

Die 2022-begroting wat ter tafel gelê is , is een wat reageer op die land se onmiddellike behoeftes en om te bou op die toekoms .

Wat die onmiddellike behoeftes betref , is daar ʼn sterk dryf om arm en kwesbare Suid- Afrikaners te ondersteun , terwyl daar steeds gefokus word om die gesondheid van openbare finansies te herstel . Hierdie benadering word ondersteun deur ekonomiese hervormings om beleggings , groei en werkskepping te bevorder .
BEGROTINGSREDE IN ʼn NEUTEDOP
Ten spyte van oneweredige ekonomiese herstel , het belastinginvordering oor die afgelope 12 maande verwagtinge oortref vanweë die mynbousektor wat goed presteer het en verbeterde inkomste na die 2020-resessie . Die staat gebruik ʼn gedeelte van hierdie bykomende inkomste om sy skuldlas vinniger te stabiliseer . Die belastingmeevaller word op R182 miljard teen einde Maart 2022 geskat . Die verwagting is dat gekonsolideerde begrotingsbesteding oor die volgende drie jaar teen ʼn jaarlikse gemiddeld van 3,2 % vanaf R2,08 bil- joen in die 2021-2022 boekjaar tot R2,28 biljoen in die 2024-2025 boekjaar sal groei .
Altesaam R18,4 miljard word in die 2022- 2023 en 2023-2024 boekjaar uitgesit om werk vir jeugdiges en korttermynwerk met die presidensiële werkskeppingsinisiatief te skep .
Die ekonomie het begin herstel van die Covid-19-inperking in 2021 , maar sy herstel het in die tweede helfte van die boekjaar verswak . Beduidende risiko ’ s tot die ekonomiese uitkyk sluit in die voorkoms van ʼn nuwe Covid- 19-stam in die konteks van lae inentingsvlakke , die wêreldwye styging van inflasie en die volgehoue onderbreking van Suid-Afrika se kragvoorsiening . Die staat is egter volgens die minister daartoe verbind om oor die volgende drie jaar bykomende maatreëls in te stel om die lewering van openbare infrastruktuur te verbeter en privaat kapitaal te lok . Die geskatte groei van 4,8 % in die bruto binnelandse produk ( BBP ) in 2021 sal gevolg word met ʼn gemiddelde groei van 1,8 % in die volgende drie jaar . Dit weerspieël ʼn stadige herstel .
LANDBOU
Die staat het reeds aansporing die lig laat sien om werkskepping en entrepreneurskap te bevorder . Arbeidsintensiewe , uitvoergeoriënteerde sektore soos die landbou en toerisme geniet daarom bykomende ondersteuning .
Die landbou- , bosbou- en visserysektor het met 3,3 % gegroei oor die eerste drie kwartale van 2021 , teenoor die ooreenstemmende tydperk in 2020 .
Goeie somer- en winterreën , tesame met gunstige pryse , sal ʼn tweede agtereenvolgende jaar van groei volhou ten spyte van die in-
krimping van die landbou in die derde kwartaal . Hoewel somerveldgewasse en tuinbou oor die tydperk uitgebrei het , het die uitwerking van dieresiektes die veesektor benadeel .
Die verwagting is dat die landbousektor in 2022 sal voortgaan om te groei , in reaksie op gunstige toestande . Handels- en logistieke onderbrekings en deurlopende dieregesondheidsprobleme is as risiko ’ s vir die sektor geïdentifiseer .
Die staat het R1,3 miljard bewillig vir die program vir landbouproduksie , biosekerheid en hulpbronnebestuur by die departement van landbou , grondhervorming en landelike ontwikkeling vir inspeksie , kwarantyn en biosekerheid . Dié geld sal aangewend word om biosekerheid en sanitêre en fitosanitêre standaarde wat deur internasionale markte verlang word , te versterk . Om volhoubare ontwikkeling en maatskaplike geregtigheid te bevorder , word R14,6 miljard toegestaan vir grondhervorming en restitusie en R6,8 miljard vir die gemengde finansieringsprogramme , ontwikkeling van boere en nasorgondersteuningsinisiatiewe .
Die tesourie het R27,9 miljard bewillig vir infrastruktuurbelegging en werkskeppingsprogramme , insluitend die presidensiële werkskeppingsinisiatief , asook ramphulp vir die storms en vloede in Kwazulu-Natal .
* Die artikel is oorspronklik in Landbou . com gepubliseer .
16
SENWES SCENARIO | HERFS AUTUMN 2022