Senwes Scenario March - May 2021 | Page 38

NUUS

INTERNASIONAAL

NOG GEEN EINDE AAN STYGENDE VOEDSELPRYSE

Data wat deur die Voedsel-en Landbou Organisasie van die Verenigde Nasies ( FAO ) bekendgemaak is toon dat voedselpryse in Desember wêreldwyd toegeneem het .
Annette Willemse Kommunikasiespesialis

Die tendens van stygende

voedselpryse word reeds vir die afgelope sewe agtereenvolgende maande waargeneem . Die FAO-voedselrysindeks was gedurende Desember 2020 op 107,5 punte vasgestel , 2,2 % hoër as wat dit in die voorafgaande maand was . Die maatstafindeks , wat maandelikse veranderinge in die internasionale pryse van voedselprodukte aandui , was vir die duur van 2020 op gemiddeld 97,9 punte vasgestel wat nie net ʼn toename van 3,1 % op die 2019 data verteenwoordig nie , maar ook as die grootste styging die afgelope drie jaar beskou word .
GRAAN Die graanprysindeks het vanaf November met 1,1 % gestyg en het vir die duur van 2020 gemiddeld 6,6 % bo die aangetekende vlakke van die vorige jaar verhandel . Die uitvoerpryse van koring , mielies , sorghum en rys het ook in Desember toegeneem as gevolg van kommer oor die groeitoestande en oesvooruitsigte in Noord- en Suid-Amerika , sowel as Rusland .
Op ʼn jaargrondslag was die uitvoerprys van rys 8,6 % hoër , terwyl die prys van mielies en koring onderskeidelik 7,6 % en 5,6 % hoër was .
GROENTE-OLIE Die indeks vir groente-olie het in Desember met 4,7 % toegeneem en die hoogste vlak sedert September 2012 bereik . Derhalwe het die voortslepende verskaffingsdruk wat in die groot palmolieproduserende lande ervaar word , internasionale handel verder beïnvloed deur ʼn skerp toename in uitvoerkoste vanaf Indonesië .
Internasionaal het die prys van sojaolie ook gestyg as gevolg van langdurige stakings in Argentinië , wat die persproses en gevolglike verskeping negatief beïnvloed het . Op die keper beskou het hierdie subindeks gemiddeld 19,1 % hoër verhandel as in 2019 .
SUIWEL
Die suiwelprysindeks het in Desember met 3,2 % gestyg , met alle kategorieë wat sterker vertoon as gevolg van ʼn sterk wêreldwye aanvraag . Kommer oor heersende droogtetoestande in Oseanië asook ʼn groot aanvraag in Wes-Europa , het dié styging aangedryf . Deur die loop van 2020 was die suiwelprysindeks gemiddeld 1 % laer as in 2019 .
VLEIS Gedurende Desember het die vleisprysindeks met 1,7 % gestyg , terwyl dit op ʼn jaargrondslag ongeveer 4,5 % swakker vertoon het as in die vorige jaar .
SUIKER ʼn Daling van 0,6 % in die suikerprysindeks is gedurende Desember aangeteken . Dié subindeks het gedurende 2020 ongeveer 1,1 % hoër verhandel as wat die geval in 2019 was . Hierdie styging word toegeskryf aan die toenemende vraag na verfynde suiker vanuit Indonesië , terwyl verbeterde produksievooruitsigte in Brasilië en Indië ook ʼn invloed gehad het .
36
SENWES SCENARIO | HERFS AUTUMN 2021