Senwes Scenario March - May 2021 | Page 35

NUUS

STAMBREEK BY MIELIES

NA BOGEMIDDELDE NEERSLAE

Na afloop van die bogemiddelde reënval wat reeds hierdie seisoen oor groot dele van die somergraangebied aangeteken is , word produsente gemaan om op die uitkyk te wees vir die voorkoms van stambreek .
Annette Willemse Kommunikasiespesialis

Dit volg nadat verskeie

produsente in die Oos-Vrystaat en Noordwes aangedui het dat hul mielies ongeveer 500 mm van bo af afbreek . Pieter Rademeyer , landboukundebe- stuurder by Pannar , gee meer inligting oor dié plantsiekte .
MEER OOR STAMBREEK
Gedurende die plant se vegetatiewe groeistadium kan stambreek in enige stadium voorkom vanaf groeistadium V5 tot V18 , wanneer vyf tot 18 blare ontvou waarvan die kraag sigbaar is .
Die mees algemene stadium vir die voorkoms van stambreek is V5 tot V8 en V12 tot R1 . Laasgenoemde word ongeveer twee weke voor die saadstadium bespeur . In die V5 tot V8 stadium breek die plante gewoonlik op die grondoppervlak af en sal hulle geen opbrengs lewer nie .
Wind , en veral rukwinde , is grotendeels verantwoordelik vir die afbreek van die stamme . Volgens Rademeyer sal gebreekte plante of stamme almal in een rigting lê . In enkele gevalle kan spruite uit die plant ontwikkel en koppe grootmaak .
Die risiko van stambreek verhoog wanneer ʼn plant heuphoogte is , want die plant beweeg dan in ʼn versnelde groeifase in . Gevolglik vergroot die wortelstelsel drasties en die plant se water-en voedingsopname neem dienooreenkomstig toe . Tydens koel , vogtige toestande neem die mielieplant baie water op , wat die turgordruk in die selle verhoog . Die internodes verleng baie vinnig met die selwande wat dan swakker is omdat min lignien neergelê word . Dié swakker selwande verhoog die risiko van stambreek .
Die voorkoms van winderige toestande soggens veroorsaak volgens Rademeyer meer skade as storms gedurende die laatmiddag , en hy voeg by dat plante na die dag se hitte minder turgordruk het en daarom meer elasties is .
Indien die plant bokant die kop afbreek , sal dit steeds ʼn opbrengs kan lewer . In dié geval sal die res van die plant se blare die noodsaaklike funksies oorneem en die plant sal steeds ʼn kop kan lewer . Rademeyer verduidelik dat in die lig hiervan , graanopbrengsverlies nie altyd ooreenstem met die hoeveelheid plante wat gebreek het nie .
HIERDIE FAKTORE SPEEL OOK ʼn ROL
Die voorkoms van stambreek kan volgens Rademeyer ook aan die volgende faktore toegeskryf word :
• Chemiese middels Indien sekere soorte chemiese middels toegedien word , kan dit die voorkoms van stambreek verhoog . Voorbeelde van sulke produkte is 2,4D en dikamba . Hierdie middels het tot gevolg dat plante vinniger abnormale seldeling ondergaan wat die plant meer onderhewig maak aan stambreek . In hierdie geval sal plante presies op die nodes afbreek .
• Bemesting Hoë vlakke van stikstof kan stambreek veroorsaak , veral wanneer plante se groeitoestande hoë opbrengste moontlik maak .
• Plantestand Hoe hoër die plantestand , hoe hoër is die voorkoms van stambreek . Die rede hiervoor is dat plante onderling meer meeding om voedingstowwe , water en sonlig . Dit lei daartoe dat plante hoër sal uitgroei met gevolglike dunner stamme .
• Genetiese eienskappe Sekere genetiese groepe kan meer vatbaar wees vir stambreek . Plante met ʼn meer regop-blaargroeiwyse kan minder stambreek toon as plante uit die tipiese tropiese agtergrond . Dit is dus altyd raadsaam om ʼn pakket van saad , saamgestel uit meer as een baster , aan te plant .
Vir meer inligting oor stambreek , kontak Rademeyer by pieter . rademeyer @ pannar . co . za
SENWES SCENARIO | HERFS AUTUMN 2021 33