Senwes Scenario Junie / Julie 2019 | Page 23

LANDBOUKUNDIG JOU VEEARTS SE ROL Jou veearts se rol en dan ook die daarstelling van ’n doelgerigte inentings- en ontwurmingsprogram, kan nie genoeg benadruk word nie. Van die belangrikste inentings vir verse moet reeds voor speen toegedien word. Beskou inentings as ’n langtermynbelegging in jou verse en tree proaktief op. Daar word nog heeltemal te laat opgetree en dan is dit nodig om brand- weerman te speel en vure dood te slaan. Let veral op vir geslagsiektes. Dit geld veral by produsente wat van tyd tot tyd vervangingsverse inkoop. Dring aan op veeartssertifisering wat bevestig dat die diere negatief getoets het vir heersende geslagsiektes. Moet ook nie vergeet van die jaarlikse skraaginentings voor die dekseisoen nie. Dit is en bly die beste belegging in die opbou van siekteweerstand. BESTUUR VAN DIE GROEIKURWE Daar is baie studies gedoen op die groei­ tempo van vervangingsverse en gevolg­ like reproduksieprestasie in die kudde. Ons weet dat hoe vroeër ’n vers vir die eerste keer kalf, hoe hoër sal haar pro- duktiwiteit vir die res van haar lewe wees. Dit is egter hoogs gekorreleer met haar vlak van voeding, veral in die periode tot die aanloop van haar eerste dekseisoen. Proefwerk op drie verskillende rasse het getoon dat verse wat gemiddeld 700g/dag gegroei het, teenoor verse wat gemiddeld 350g/dag gegroei het, se persentasie hittewaarneming op 14 maande bykans 25% hoër was. Weeg jou verse gereeld en volg ’n strategiese aanvullingsprogram om by die verlangde teikenmassas uit te kom. Neem in ag dat omgewings- en ras­ va­riasies wel voorkom en dat enige voedings­program dienooreenkomstig aangepas moet word. Dit sal onder ande- re verhoed dat diere in oormatige kondisie is. Onthou ook dat verse hulle teikengewig voor die aanvang van die dekseisoen moet bereik – weereens die klem op proaktiewe bestuur. Ons sien dikwels dat vervangings­verse, veral in hulle eerste winter, dieself­de lek kry as die koeigroep (basiese winteronder­ houdslek), terwyl haar behoefte eerder neig na ‘n meer produksie­geformuleerde lek (waak hier egter teen te hoë energie­ vlakke). Hierdie is een van die hoofredes waarom verse nie by die gewenste teiken- massas uitkom met die aanvang van die dekseisoen nie. Dit benadruk die uitgangs­punt dat ver- vangingsverse nie te gou by die res van die koeigroepe geïnkorporeer moet word nie. Deur hulle tot na die tweede dekseisoen apart te bestuur, laat ruimte vir beter voedingsbestuur. SLOTGEDAGTES Bestuur jou vervangingsverse as die belangrikste bateklas op jou plaas en beskou die koste van ’n doeltreffende gesondheids- en voedingsprogram as ’n langtermynbelegging in die produktiwiteit van die vers. Moet ook nie die rol van die bul vergeet wat betref die afwesigheid van geslagsiektes, dekbehendigheid en korrekte keuse in terme van kalwings- gemak nie. Werk nou saam met jou veearts in die daarstelling van ’n gesondheidsprogram wat aangepas is vir jou omgewing, en ook met jou veekundige wat jou aanvullende voedingsprogram en die bestuur van jou voervloeiprogram betref. Dit sal verseker dat diere teen die korrekte groeikurwes ontwikkel. Daar is geen geheime of kitsresepte nie. Produsente wat daarin slaag om verse suksesvol in hul kuddes te vervang, is produsente wat hou by die basiese beginsels en nie kortpaaie najaag nie. SENWES SCENARIO | WINTER 2019 21