Senwes Scenario Junie/Julie 2018 | Page 4

Uit die Woord
Daar is ’ n tyd …
ALGEMEEN RUBRIEK

Uit die Woord

Die V-faktor

Junie en Julie is die maande waartydens boerderye op wild en jag , vee en veevoeding konsentreer . Maar tydens die onlangs opening van die nuwe Senwes Equipment takke in die Oos-Kaap , is moontlike dubbelsinnigheid weereens onder my aandag gebring . Soos my hoofredakteur altyd sê , weet altyd wie jou gehoor is .

Vee is ’ n selfstandige naamwoord en boerdery is ’ n algemene term wat verwys na al ons skape en beeste wat op ons plase wei . Maar vra vir ’ n kind wat is vee , dan kom die antwoord duidelik , v is ’ n letter , die 22ste in die alfabet ,… ’ n Engelsman sal sê dit is ‘ vee ’.
Interessant staan die akroniem VEE vir Venezuelan Equine Encephalitis . Dit is ’ n virus wat muskietgebonde is en veral donkies , perde en ook sebras kan tref . Dit tas die sentrale senuweestelsel aan en selfs mense kan deur die virus geaffekteer word .
Die ouer garde sal vir Bobby Vee onthou wat verskeie treffers in Amerika gehad het .
Vir ander is vee weer ’ n werkwoord wat skoonmaak impliseer . Ek vee die vee se stal uit op die maat van Bobby Vee want die goeie fee sal tog nie by my stal ’ n draai kom maak nie . In een sin kan dit jou nogal uitboul .
Dit is die V-faktor . By talente praat sommiges van die X-faktor maar vir my het ’ n produsent verseker die A tot Z-faktor , waarvan vee net een is .
Sterkte met die vee en die voorbereiding vir die 2018 / 2019 sei soen . Ja , kyk vorentoe - moenie dat die huidige faktore jou uniekheid beïnvloed nie .
Veegroete
Daar is ’ n tyd …
Ds . Willie Botha Lees : Prediker 3:1-11
“ EK HET EEN middag , terwyl die herfsblare se pastelkleure duideliker word , besef hoe wonderlik ’ n bladwisselende boom se siklus is . In die somer is blare donkergroen , dit het die vermoë om elke sonstraal te benut . Middel Februarie begin die area rondom die blaarare verkleur en vir die volgende maande word die blaremat onder die boom al dikker . Met tyd word dit tot organiese materiaal afgebreek , wat opnuut die waarde van die grond verbeter . Tydens winter met die felste koue rus die boom en skakel dit in ’ n sekere sin af . Waarskynlik is daar genoeg reserwes opgebou . Teen die tyd is die boom feitlik kaal . Augustuswinde stroop die blare wat dood maar hardnekkig nog aan die takke vasge klou het . Dan kom die laat winter- , vroeë lentehael wat die nodige stikstof vir die groeiseisoen in die grond sit .
Plantkenners moet my waarneming verskoon . Ek was in verwondering oor die manier waarop die natuur sy kanse optimaliseer . Vir die veeboer hou die winter ook unieke uitdagings in . As Angorabokboere onthou ek goed hoe ons die eerste ses weke na skeer elke aand die bokke gaan haal en onderdak gebring het . Hoe ons die weervoorspelling gevolg en elke woord van oom Piet van Rensburg voor die sinoptiese kaart ingedrink het . Baie vroulike diere is in die winter dragtig , en daar moet op hulle kondisie en hantering gelet word . Saam met die winter kom jaarliks unieke voedingsuitdagings . Party jare is droër en soms is ekstra voer nodig . Dit is ’ n goeie tyd om die eksterne parasiete se siklus te breek .
Die Prediker het die waarneming van lewensiklusse wyer ge - trek . Ook in die lewe is daar ’ n tyd vir elke ding onder die son . “ Elke ding het sy vaste tyd , elke ding in hierdie wêreld het sy tyd .” Daar is ’ n tyd om gebore te word , daar is ’ n tyd om te sterwe . Daar is ’ n tyd om te plant , en ’ n tyd om plante uit te trek . In Prediker 3:10,11 vat hy sy waarneming van die lewe saam : 10 Ek het gesien dat God aan die mens ’ n taak gegee het om hom mee besig te hou . 11 God het elke ding gemaak dat dit pas in ' n bepaalde tyd , maar Hy het ook aan die mens ’ n besef gegee van die onbepaalde tyd . Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie .
Winter is vir die veeboer ’ n unieke tyd , ’ n bepaalde tyd , optimaliseertyd . ’ n Tyd waar ons in God se groter , onbepaalde tyd inpas . Dit is nie ’ n tyd om passief te wees nie , maar proaktief . In die naakte eenvoud van winter ontdek ons ook unieke aspekte van ons tyd met God - en God se tyd met ons .
02
SENWES SCENARIO | WINTER 2018