Senwes Scenario Junie - Augustus 2020 Winter 2020 | Page 40

GRAANMAKELAARS Witmielieverskansingsalternatiewe Invloedryke markprysdrywers (2) Hierdie artikel is die tweede in ‘n kort reeks artikels wat daarop gemik is om praktiese insig te gee oor hoe die seisoenale prysontwikkelingsverwagting geïnterpreteer en geëvalueer kan word ten einde ‘n meer ingeligte besluit te neem rakende prysrisikobestuur. � Frans Dreyer Bestuurder: Senwes Graanmakelaars Tabel 1 gee 'n samevatting van al die faktordata wat gegroepeer is op grond van 'n hoë, medium en lae waarde vir hul onderskeie persentielwaardes gedurende die plantvenster, wanneer 'n prysvormingsverwagting gevorm word om 'n ingeligte verskansingsbesluit te neem. Dit beteken dat hierdie faktore 'n spesifieke waarde op 'n spesifieke tydstip aanneem, en die relatiewe waarde van hierdie faktore die koppeling van verskillende produksieseisoene moontlik maak op grond van die ooreenkomste tussen die faktorwaardes van verskillende produksieseisoene op 'n spesifieke tydstip. Die interpretasie van die persentielgroeperingswaardes vir al die faktore het bevestig dat die persentielgroeperingsmetode die nodige basis vorm om soortgelyke seisoene te verbind op grond van die ooreenkomste in die relatiewe faktorwaardes. Die veranderinge van die faktorwaardes gedurende 'n gegewe produksiejaar kon ook logies gekoppel word met prysvorming in die Julie-termynkontrak vir witmielies op 'n spesifieke tydstip. Ten spyte hiervan, kon nie een van die faktore, met die moontlike uitsondering van die SOI-faktor, ‘n vooruitskouing gee waarop 'n logiese afleiding gemaak kon word oor die verwagte prysvorming van die Julie-termynkontrak vir witmielies nie. Verder het dit geblyk dat dit onprakties sou wees om elke faktor in isolasie te evalueer en dat deurlopende evaluering van die wisselwerking tussen die faktorwaardes gedurende elke produksiejaar, nodig sou wees. Desnieteenstaande het verskeie evaluerings getoon dat die model dit moontlik maak om ooreenkomste tussen die invloedryke faktore vir verskillende seisoene te identifiseer. Twee spesifieke prysbepalende faktore in die vorm van die deurlopende prys van witmielies (vasgestel deur middel van die 100-dae en 200-dag bewegende gemiddelde houding) en El Niño/La Niña het veral duidelike ooreenkomste tussen seisoene aangedui. Die model het gevolglik die middele gebied om produksiejare in verskillende kombinasies te verdeel ten einde 'n toepaslike konsensus te bereik vir die prysontwikkelingsverwagting van die Julie-witmielietermynkontrak (d.w.s. opwaarts, afwaarts of sywaarts). Hierdie konsensus het ook die nodige inligting gebied wat ‘n produsent benodig om 'n meer optimale verskansingstrategie te implementeer. 40 38 SENWES SCENARIO | WINTER 2020