Senwes Scenario Junie - Augustus 2020 Winter 2020 | Page 30

JAG EN WAPENS Jan, wat is die beste “all round” kaliber? As ‘n baie matige en gemaklike mens, is daar baie min goed wat my van stryk af bring. � Deur Jan-Lodewyk Serfontein Maar die bespreking van die beste all round kaliber is een wat my dwars in die krop steek. Die grootste rede vir die gevoel is dat die antwoord - “want ek het een” eintlik geen water dra nie, en in meeste gesprekke gereeld opduik. Kom ons kyk of ons met feite dalk nader aan ‘n goeie all round kaliber antwoord kan kom. ‘n All Rounder in ander sportsoorte word gesien as ‘n speler wat vir ‘n span gekies kan word in meer as een posisie. Met ander woorde, die speler het die vermoë om in meer as een posisie as die beste gesien te word. Daarom moet ons bepaal wat die posisies is wat die kaliber in moet meeding en teen watter ander kalibers moet hy meeding. In jagterme is daar ‘n paar veranderlikes wat bespreek kan word. Eerstens is dit die terrein waar die kaliber gebruik word. Tweedens is dit die grootte dier wat gejag word. Van hier af kan ons baie veranderlikes byvoeg soos terugskop, koste om te skiet en beskikbaarheid van ammunusie, om maar ‘n paar te noem. Die eerste en tweede veranderlike is sekerlik dié wat die meeste gewig dra in die bespreking en daarom sal ons hulle twee aanpak. In Suid-Afrika kan die verskillende terreine waar gejag word opgebreek word in vlaktejag (lang afstande) en bosveldjag (kort afstande). Vlakte jag vereis ‘n kaliber wat oor ‘n afstand van 250m ‘n relatiewe plat trajek het. Vir bosveldjag neig ons na ‘n kaliber wat ‘n swaarder projektiel stadiger skiet, maar ‘n goeie slaankrag het, sodat die dier nie ver moet beweeg ná die skoot geskiet is nie. Groote van die diere wat gejag word, wissel meestal van ‘n springbok tot by ‘n eland. Buffel en die res van die groot 5 is nie diere wat met ‘n all rounder gejag word nie. Kalibers met ‘n plat trajek is ‘n kaliber wat sy projektiel teen ‘n hoë spoed kan lanseer. Enigiets oor 2900fps sal ek reken kan as ‘n plat trajek gesien word. Sodra ons dan die kaliber in die bosveld wil gebruik moet ons hom kan skiet met ‘n swaar projektiel teen ongeveer 2400fps. Die spoed van 2400fps behoort vir ons genoeg penetrasievermoë te verskaf met ‘n swaer projektiel en genoeg slaankrag dat die dier nie te ver loop voor hy val nie. Behalwe vir ‘n goeie plat trajek wil ons ook nog ‘n klein kaliber hê wat nie te veel vleisskade maak op ‘n klein bok nie, maar wel groot genoeg is om ‘n blouwildebees in sy spore te kan stuit. En om ‘n blouwildebees in sy spore te stuit, sit ook nie in enige kaliber se broek nie. Kan ons dus ‘n regte all rounder kry wat alles kan doen wat ons wil hê? Kom ons kyk. Daar is maar net ‘n handjie vol kalibers wat gemaklik oor die 2900fps kan skiet. Tesame met dit wil ons dan ‘n projektiel skiet wat ongeveer 165gr en swaarder is om die groot diere te stuit. Dit is nie nodig om die 165gr teen 2900fps te lanseer nie. As die 165gr teen 2400fps geskiet kan word sal dit voldoende wees in die bosveld. Solank die kaliber dan ‘n ligter projektiel kan lanseer teen 2900fps, sal ons naby aan ‘n all rounder wees. Natuurlik is daar kalibers wat ‘n 165gr en swaarder projektiel teen 2900fps kan lanseer. Ons vleisskade op kleinwild sal dan aansienlik meer as aanvaarbaar wees. As gevolg van die vleisskade sal ons dus sulke kalibers buite rekenig laat. Meeste kalibers tot en met .270 Winchester, is nie ontwerp vir ‘n 165 gr projektiel nie. Daarom sal ons na 7mm en groter kalibers kyk. Die .338 kalibers is ongeveer die groote kaliber wat in staat is om ‘n 165gr en swaarder projektiel teen 2900fps en vinniger te lanseer. Daarom sal ons nie groter as ‘n .338 oorweeg nie. Kalibers tussen .270 en .338 wat teen 2900 fps kan skiet en swaarder as 165gr kan lanseer, behoort dus ‘n lekker all round kaliber te wees. Dat ‘n .270 ‘n groot bok plat kan trek, is gewis. Die .338 sal ook baie plat kan skiet, maar vir all round gebruik sal ek kalibers tussen die twee as ‘n goeie opsie beskou. My keuse vir ‘n all round kaliber as ek net een kan kies? Ek sal moeilik kies tussen ‘n 7x64 Breneke en ‘n 30-06 Springfield. Einde van die dag dink ek die 7x64 sal gelukkig wees om my keuse te wees. 28 SENWES SCENARIO | WINTER 2020