LANDBOUKUNDIG
23 | Alternatiewe voerbronne
Rumenbakterieë is hoofsaaklik
anaerobies (sonder suurstof), alhoewel
‘n paar spesies fakultatief (beide met en
sonder suurstof) is wat die funksie vervul
om enige suurstof wat op die oppervlakte
van die rumen mag voorkom, te verwyder.
Die mikrobepopulasie, wat uit meer as
220 spesies mikobes bestaan, vervul ‘n
verskeidenheid van verteringsfunksies.
Daar is amilolitiese mikrobes wat stysels
en suikers verteer, sellulolitiese bakterieë
wat vesel soos sellulose, hemisellulose
en pektien verteer tot dié wat organiese
sure en waterstof as energiebron benut.
Die bakterieë is hoogs afhanklik van
B-vitamines, ammoniak, koolstofdioksied
en vlugtige vetsure. Sekere bakterieë
produseer produkte wat die gasheerdier
benut terwyl ander weer produkte
produseer wat ander bakterieë benut.
In wese beteken dit dat as ‘n herkouer
gevoer word, dan word eintlik eers die
mikrobes en dan die dier gevoer.
Proteïene in die rumen word grootliks
opgeoffer om ammoniak (NH3) en
aminosure in die hande te kry wat vir die
opbou van mikrobegroei en reproduksie
nodig is. Al die mikrobespesies is bestem
om gedurig uit die retikulo-rumen na die
omasum gewas te word. Hierdie mikrobes
word ‘n hoë-kwaliteit proteïenbron
vir die dier, wat as mikrobeproteïen
bekend staan. Slegs ‘n lae persentasie
van die voerproteïene, bekend as
verbyvloeiproteïene, is vir die diere
beskikbaar. Die produksie en benutting
van die proteïenfraksies by mikrobes is
van koolhidraat (energie) beskikbaarheid
afhanklik en is die voedingstofbalans van
die voer dus bepalend. Die koolhidrate
word in die anaerobiese omgewing
na vlugtige vetsure afgebreek. Die
belangrikste vetsure is propioonsuur,
asynsuur en bottersuur, wat as
energiebron vir die dier dien.
Die laer spysverteringskanaal
Die laer spysverteringskanaal kan
met die verteringstelsel van die
enkelmaagdier vergelyk word en is die
plek waar vertering en absorpsie van
voedingstowwe vir die dier plaasvind.
Vertering vind in die abomasum
(ware maag) plaas waar sure en
verteringsvloeistowwe met ensieme
afgeskei word. Tussen 70% en 90% van
die stysel word in die rumen verteer en
ongeveer die helfte van die res word in
die dunderm verteer. Verterende voer
deur die dermkanaal kom in kontak
met die dermwand, waar glukose en
aminosure geabsorbeer word. Vesel, wat
vertering in die rumen ontsnap, stimuleer
die peristaltiese sametrekking en vloei
van material deur die dermkanaal. Water,
die oorblywinde koolhidrate, minerale,
stikstof en vlugtige vetsure word meestal
in die dikderm geabsorbeer.
Klassifikasie van alternatiewe voere
Meeste byprodukte wat vir veevoer
beskikbaar is, is die produk nadat
materiaal vir menslike aanwending
verwyder is. Vir hierdie rede verskil
die samestelling van byprodukte
gewoonlik drasties van die oorspronklike
bronmateriaal en is die voedingstowwe
ook meer gekonsentreer.
Energieverskaffers
Afvalprodukte wat hoog in suikers,
stysel en selfs vetinhoud, is kan as
energiebron verskaf word. Voorbeelde
van energieryke byprodukte is
afval van die graanmaal- (mielies,
koring, hawer en gars), lekkergoed-,
vrugte- en groenteverwerkings- en
suikervervaardigingsbedrywe (melasse).
Proteïenverskaffers
Voer van die oliesaadverwerkingsbedryf
is hoofsaaklik proteïenverskaffers.
Voorbeelde van proteïenverskaffers is
byprodukte van oliesade (sojabone,
kanola, katoensaad, grondbone en
sonneblom), mielieglutenmeel en ureum.
Sekere voere wat laer proteïeninhoud as
oliekoekmele (30% tot 50% ruproteïen)
en vergelykbare en/of laer energiewaarde
as mielies het, word as mediumproteïenvoere
geklassifiseer. Voorbeelde hiervan
is koringsemels, lusernmeel en pille,
asook brouersgraanprodukte. Multivoedingstofbronne
is katoensaad, wat
vet vesel en proteïene verskaf asook
geroosterde sojabone wat proteïen en
vet verskaf. Goeie verbyvloeiproteïen
wat vir melkbeeste belangrik is, is
mielieglutenmeel, bloedmeel, veremeel,
vismeel, karkasmeel (van enkelmaagdieroorsprong)
en brouersgis uit die
distilleerbedryf.
26
SENWES SCENARIO | WINTER 2020