LANDBOUKUNDIG
Tema: Fokus op fee
Hoe groot
is die ureumrisiko in my lek?
� Phillip Lee
Diereoplossingsbestuurder
Oor ureum en ureumvergiftiging is
daar al baie geskryf, en alhoewel
ons glo dat ons vertroud is met
die risiko’s verbonde aan die gebruik van
ureumbevattende rantsoene, sien ons
steeds jaarliks groot verliese as gevolg van
ureumvergiftiging. Dit is veral opsigtelik
tydens die oorgang van somer na winter,
maar selfs meer nog in tye met ‘n lae of
swak ruvoeraanbod en gepaardgaande
stygings in daaglikse lekinname.
Wat ureumvergiftiging verder kompliseer,
is die feit dat daar nie vasgestelde
vlakke is wat korreleer met toksisiteit nie.
Sekere diere toon baie hoër vlakke van
verdraagsaamheid as ander. Veilige vlakke
mag van plaas tot plaas verskil en kan
selfs op dieselfde plaas wissel na gelang
van die seisoen, weidingsgehalte en algehele
kuddegesondheid.
Waak dus teen die siening dat jou lek
‘veilig’ is, want diere kan aan subkliniese
ureumvergiftiging ly – sonder sigbare tekens
met gevolglike finansiële en produksieverliese.
In hierdie artikel stof ek graag
die ureumonderwerp af om duidelikheid
te gee oor wat tydens ureumvergiftiging
gebeur en hoe dit prakties bestuur kan
word.
Presies wat is ureumvergiftiging?
Ureum op sigself is nie giftig nie – dit
is tydens die metabolisering van ureum
in die rumen waar probleme ontstaan.
Mikrobes in die rumen skei die ensiem,
urease, af. Hierdie ensiem hidroliseer
die ureum na koolsuurgas en ammoniak.
Laasgenoemde is giftig, maar word in
die normale verloop van sake weens
die lae pH-omgewing in die rumen na
ammonium omgeskakel. Ammonium is
die herkenbare vorm van stikstof vir die
mikrobes en word gebruik as die boustene
vir die sintetisering van mikrobeproteïen.
Ureumvergiftiging staan ook as alkalosevergiftiging
bekend en ontstaan as
gevolg van die vinnige vervaardiging
van groot hoeveelhede ammoniak. Die
dier se kapasiteit om hierdie groot klomp
ammoniak om te skakel na ammonium,
word dus oorlaai. Die oormaat ammoniak
word in die bloedstroom opgeneem
en die suurstofdraende funksie van
bloed word dan belemmer as gevolg
van die alkalisering van die bloed.
Senuweefunksies word gevolglik nadelig
beïnvloed. Die skielike styging in die
rumen pH is boonop bevorderlik vir die
opname van ammoniak.
Kliniese tekens van ureumvergiftiging
raak gewoonlik vinnig sigbaar (15 tot 30
minute na voeding). Kliniese tekens sluit
in maagpyn, skuim om die bek, hipersensitiwiteit
vir klank en beweging, spiertrillings,
moeilike asemhaling en opblaas
weens die opbou van ammoniakgas.
Diere vertoon ‘n algemene swakheid en
vrek gewoonlik binne vier ure na inname.
14
SENWES SCENARIO | WINTER 2020