Senwes Scenario June - August 2021 | Page 50

NUUS

BROU JOU

BIER

EN VUL JOU BIODIESELTENK

As jy gedink het die brou van bier is beperk tot groot kommersiële brouerye en vlytbierbrouers wat met boetiekbiere eksperimenteer , dink weer . Navorsers aan die Virginia Polytechnic Institute and State University ( Virginia Tech ) in Amerika brou bier vir ʼn totaal ander rede : die ontwikkeling van biobrandstof .
Annette Willemse Kommunikasiespesialis

Dié span navorsers het bevind dat deur die proteïen en vesel uit die byproduk van die biermaakproses te onttrek , hulle nuwe proteïenvorme kan saamstel wat onder meer vir die ontwikkeling van biobrandstof gebruik kan word . Hierdie byproduk van die biermaakproses word tradisioneel vir dierevoer gebruik of beland andersins op die ashoop .

Volgens dr Haibo Huang onder wie se leiding hierdie navorsing plaasvind , verkeer brouerye wêreldwyd onder groot druk om hul afvalsvlakke te verminder . Die resultate van die navorsing is volgens Huang prakties toepasbaar en kan daarom ʼn groot impak op die bedryf hê .
Verwerkte graan bevat ʼn baie hoë persentasie proteïene ( tot 30 %) in vergelyking met ander landbouafval , en Huang meen dit bied gulde geleenthede aan innoverende denkers en wetenskaplikes in terme van herwinning en heraanwending . Omdat dié byproduk ook uit ongeveer 70 % vesel bestaan , moes die navorsers koppe bymekaarsit om iets funksioneel te skep en Huang verduidelik dat hulle met ʼn unieke fraksioneringsproses vorendag gekom het om die skeidingsproses te vergemaklik en sodoende tot 83 % van die proteïen te herwin .
Die proteïen-en veselkonsentraat word daarna deur verskeie chemiese prosesse omgesit na 2,3-butaandiol , ʼn organiese verbinding , wat gebruik word in produkte soos sintetiese rubber en 2-butanol , ʼn brandstof .
Volgens Huang werk die span navorsers onverpoosd daaraan om goedkoper en meer toeganklike ensieme te vind om die proteïen-en veselkomponente te skei om sodoende die proses meer bekostigbaar en volhoubaarder te maak .
48
SENWES SCENARIO | WINTER 2021