Senwes Scenario June - August 2021 | Page 45

NEWS

WATERLISENSIES

NOU GOUER VERWERK

Net meer as ʼn jaar nadat president Cyril Ramaphosa in sy 2020-staatsrede beloof het om die uitgerekte aansoekproses vir waterlisensies aan te spreek , is ʼn besluit bekragtig wat dié omkeertyd van 300 dae tot 90 dae te verkort .
Annette Willemse Kommunikasiespesialis

Volgens die departement van water en sanitasie sal streekkantore en opvanggebied-bestuursagentskappe voortaan bemagtig word om laevolume-en laerisiko-watergebruikslisensies goed te keur . Hierdie bemagtiging , wat die delegering van magte en bevoegdhede – soos uiteengesit in artikel 74 van die Nasionale Waterwet ( Wet 36 van 1998 ), is deur die waarnemende direkteur-generaal van die departement van water en sanitasie , Deborah Mochotlhi , bekragtig .

Op die keper beskou beteken dié nuwe proses dat alle damlisensie-aansoeke tot en met 50 000 m3 en aansoeke vir die ontrekking van water van 250 000 m3 per jaar per eiendom voortaan deur die provinsiale hoof van die departement van water en sanitasie of die opvanggebied- bestuursagenskappe afgehandel sal word . Aansoeke van nasionale belang en wat ʼn hoë risiko vir waterhulpbronne inhou , sal steeds deur die departement se hoofkantoor hanteer word . Die verwerking van aansoeke vir die tydelike oordrag van water ( huur van water ) sal voortaan deur alle waterbestuursinstellings soos ʼn watergebruikersvereniging of besproeiingsraad plaasvind .
Wat betref die oorplasing van water na gebiede buite die regsgebied van sodanige instellings , moet dit deur die provinsiale hoof van die departement of die uitvoerende hoof van die opvanggebied-bestuursagentskap , waar dit bestaan , goedgekeur word .
SENWES SCENARIO | WINTER 2021 43