Senwes Scenario June - August 2021 | Page 42

NUUS

SENWES

MAAK ʼn OOS-KAAPSE DRAAI

Die jaarlikse Senwes Equipment Oos-Kaap en JDI-toer het vanjaar vanaf 31 Mei tot 2 Junie plaasgevind , en alle betrokkenes is dit eens : die hartklop van dié meganisasievennoot klop sterk !
Annette Willemse Kommunikasiespesialis

Die Afvaardiging bestaande uit Francois Strydom ( Groep Hoof Uitvoerende Beampte ), Ferdie Pieterse ( Besturende Direkteur : Senwes Equipment ), Yolandie Jansen van Vuuren ( Groepbestuurder : Menslike Hulpbronne ) en Sanmarie Schlebusch ( Bestuurder : Korporatiewe Bemarking ) het die meer as 2 100 kilometer afgelê om met kliënte en die bestuurspanne van die onderskeie JDI-bedryfstakke te ontmoet . Pieterse verduidelik dat die primêre doel van hierdie jaarlikse toer na die Oos- Kaap is om werksverhoudinge te versterk en om operasionele aspekte soos kontraktuele- en strategiese-nakoming en prestasie te bespreek . Ander sake wat ook op die besprekingsagenda gedien het , sluit in die finansiële jaarafsluiting , menslike hulpbronbestuur en bemarkingsinisiatiewe soos die nuwe Senwes-toep *.

Volgens Strydom wakker hierdie besoeke telkens by hom die indruk van kwaliteit en toewyding , en is dit vir hom inspirerend om eerstehands te ervaar hoe hierdie onderskeie spanne planne maak , besigheid doen en positief is oor die landbou . Wat die groep se vennootskap met JDI en die Tomlinson-gesin , Emilius Tomlinson en sy twee seuns , Emile en Jason , betref sê Strydom : “ Senwes stap reeds ʼn ver pad met JDI en ons vennootskap is een waarop ons baie trots en dankbaar is . Nie net bestaan die JDI-span uit kwaliteit mense nie , hulle is ook diep passievol oor wat hulle doen en is trotse handelsmerk-ambassadeurs .”
Tydens die drie-daagse toer is die volgende JDI-takke en werkswinkels besoek : Aliwal-Noord , Ugie , Oos-Londen , George , Swellendam en Bredasdorp . ʼn Besoek is ook aan Agrinet in Kaapstad gemaak .
40
SENWES SCENARIO | WINTER 2021