Senwes Scenario June - August 2021 | Page 37

Tema : Fokus op vee
LANDBOUKUNDIG

BEK-EN-KLOUSEER

STEEK KOP UIT IN KZN

Die Departement van landbou , Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het ʼn algehele vervoerverbod op alle hoefdiere in en uit verskillende distriks- en plaaslike munisipaliteite in Kwazulu-Natal ingestel .
Annette Willemse Kommunikasiespesialis

Die verbod volg nadat Onderstepoort ʼn uitbraak van bek-en-klouseer in kommunale beeste in die Mtubatubaomgewing in die provinsie bevestig het . Volgens ʼn persverklaring wat deur die departement uitgereik is , poog die verbod op die vervoer van wild en vee om die verspreiding van dié hoogs aansteeklike siekte te voorkom .

Die huidige uitbraak raak die distriksmunisipaliteite van Koning Cetshwayo en Umkhanyakude , terwyl die plaaslike munisipaliteite van Nongoma , Ulundi en Pongola ook betrek word . Produsente in hierdie gebiede word versoek om die verbod te gehoorsaam , en produsente aangrensend aan hierdie gebiede word gemaan om bioveiligheidsmaatreëls te verskerp . Hierdie maatreëls sluit onder meer in dat produsente geen nuwe diere in hulle kuddes moet toelaat nie en dat die vervoer van diere na ander plase tot die minimum beperk word .
Volgens Peter-John Hassard , ondervoorsitter van die KZN Rooivleisprodusente-organisasie ( RPO ), hou die beperkte beweging groot finansiële verliese in vir vleis- en wildprodusente omdat diere nie buite die omgewing verkoop kan word voordat die verbod opgehef word nie .
MEER OOR DIE SIEKTE
Bek-en-klouseer is ʼn ernstige en hoogs aansteeklike virussiekte wat lewende hawe affekteer . Dit raak beeste , varke ( huishoudelik en wild ), skape , bokke en ander gesplete-klou diere .
Die siekte word in alle afskeidings en uitskeidings van besmette diere gevind , insluitend uitgeblase lug , spoeg , melk , urine , mis en semen . Hierdie afskeidings en uitskeidings kan voorkom voordat enige kliniese tekens waargeneem word . Die virus word verder oorgedra deur direkte of indirekte kontak met besmette diere of voorwerpe soos gereedskap , materiaal , klere en voertuie .
In beeste wissel die inkubasieperiode van twee tot 14 dae , afhangende van die dosis van die virus en die roete van infeksie . In varke is die periode gewoonlik twee dae of meer , maar dit kan ook so kort as 18 tot 24 uur wees . Die inkubasieperiode in skape is gewoonlik drie tot agt dae .
Die siekte word gekenmerk deur koors en blasies op die pote , in en om die mond en op die uier van die besmette dier . Hierdie blasies breek gou oop en erosies ontstaan wat gepaardgaan met pyn en ongemak , die vorming van letsels , depressie , anoreksie , vermeerde spoegloop , mankheid en ‘ n onwilligheid om te beweeg of op te staan . In dragtige diere kan aborsies ook voorkom indien die virus die plasenta deurdring .
Die meeste volwasse diere herstel na twee tot drie weke alhoewel sekondêre infeksies daartoe mag lei dat diere langer vat om te herstel . Moontlike komplikasies sluit in ʼn tydelike of permanente daling in melkproduksie , kroniese mankheid , mastitis , gewigsverlies en verlies in kondisie . Vrektes kom gewoonlik onder jonger diere voor as gevolg van hartspierontsteking . ʼn Vinnige reaksie is uiters belangrik om ʼn uitbreek van die siekte te beperk . Staatsveeartse en provinsiale veeartse moet onmiddellik in kennis gestel word indien verdagte gevalle voorkom .
SENWES SCENARIO | WINTER 2021 35