Senwes Scenario June - August 2021 | Page 33

Tema : Fokus op vee
LANDBOUKUNDIG

ENT IN TEEN BLOEDNIER

EN BESKERM SO JOU KUDDE

Skielike vrektes onder skape en bokke kan verskeie oorsake hê , waarvan bloednier ( ook genoem ooreetsiekte ), die algemeenste is .
Annette Willemse Kommunikasiespesialis

Volgens dr Faffa Malan , bekende dieregesondheidskenner , is bloednier een van die belangrikste siektes om van kennis te neem as dit kom by skaap- en bokkuddes . Die uitdaging waarmee produsente egter gekonfronteer word , is om die siekte korrek te diagnoseer omdat daar baie ander siektes is wat ook tot skielike vrektes in ʼn kudde kan lei . Hierdie siektes sluit onder meer in geilsiekte , bloedpens , bloedderm , pasteurellose en hartwater .

Malan raai produsente aan om so gou moontlik nadat ʼn vrekte ontdek is , die hulp van ʼn veearts in te roep om ʼn nadoodse ondersoek te doen . Hierdie ondersoek sal help om te bepaal wat die produsent volgende te doen staan .
MEER OOR BLOEDNIER Bloednier word veroorsaak deur die epsilon-gifstof van die Clostridium perfringens tipe D-bakterie , wat normaalweg in die dermkanaal van skape en bokke voorkom . Onder sekere omstandighede vermeerder die bakterieë skielik en beïnvloed dit die dier nadelig .
Gunstige omstandighede vir die vorming en verspreiding van die gifstof word byvoorbeeld geskep as skape en bokke skielik van swak grasvelde na uitsonderlike goeie weiding soos lusern , groen koring en groen hawer geskuif word , of wanneer daar vinnig oorgeskakel word na ʼn dieet wat baie ryk is aan proteïene .
Die gifstof verhoog die deurlaatbaarheid van die spysverteringskanaal se wand , sodat die gif maklik deur die liggaam geabsorbeer word . Omdat die gifstof die selle van die bloedvate beskadig , word die diere se niere geaffekteer en kan dit lei tot breindisfunksie , wat weer tot wanfunksionering van die senuweestelsel kan lei .
Lammers met akute bloednier kan binne die bestek van twee ure vrek .
VOORKOMING EN BEHEER Dr Faffa deel die volgende wenke met produsente :
• In die geval van ’ n uitbreking van bloednier , ent dadelik alle diere in die kudde in .
• Behandel alle diere met ’ n langwerkende antibiotika om vrektes te voorkom .
• Effektiewe voedingsbestuur moet toegepas word om faktore wat tot bloednier kan lei , uit te skakel .
• Identifiseer , merk en kastreer lammers voor die ouderdom van twee maande om so ’ n skielike verandering in melk- en voedselinname te voorkom .
• Herkouers se dieet moet baie stadig verander word .
• Indien die oorsaak van bloednier se voorkoms onbekend is , is dit beter om al die skape op die plaas vier weke voor ontwurming teen bloednier in te ent .
• Indien ooie voor lamtyd ingeënt word en die ooie se voedingstatus optimaal is , word die lammers deur biesmelkimmuniteit beskerm as hulle betyds genoeg biesmelk inneem .
Die oorspronklike artikel het op AgriOrbit verskyn .
SENWES SCENARIO | WINTER 2021 31