Senwes Scenario June - August 2021 | Page 27

Tema : Fokus op vee
LANDBOUKUNDIG

GEVREESDE PERDESIEKTE IN DIE KAAP AANGEMELD

Toetse by die Wes-Kaapse provinsiale veeartslaboratorium het vyf gevalle van die gevreesde Afrika-perdesiekte ( APS ) in die Kaap bevestig . In reaksie hierop is ʼn voorlopige beheergebied , wat die Cederberg-munisipaliteit insluit , gevestig .
Annette Willemse Kommunikasiespesialis

Geen perde , donkies of sebras sal gevolglik sonder ʼn permit van die Wes-Kaapse Departement van Landbou se veeartsdienste toegelaat word om die gebied te verlaat , te betree of daardeur te beweeg nie . Alle navrae in terme van dokumentasie en aansoekvorms vir permitte met betrekking tot die beheergebied , kan gerig word aan info @ myhorse . org . za , terwyl algemene navrae gerig moet word aan dr Chanel Lombard , die staatsveearts verantwoordelik vir die Cederbergmunisipaliteit en die huidige beheergebied . Skakel dr Lombard by 027 213 3106 of stuur ʼn e-pos na chanelL @ elsenburg . com

MEER OOR DIÉ SIEKTE
APS word as die ernstigste siekte onder perde in die wêreld beskou en dra nie net by tot die dood van werk- en sportdiere nie , maar het ook ʼn beduidende finansiële impak as gevolg van uitvoerbeperkings op die perdebedryf .
Die APS-virus word na die perd oorgedra deur klein , bloedsuiende muggies ( Culicoides spp ) wat hoofsaaklik in die laatsomer en herfs voorkom . Warm , vogtige klimaatstoestande begunstig die uitbroei van dié muggies , wat skemeraande en snags aktief is en in groot getalle in laagliggende dele in vleie en rondom panne en damme waargeneem word .
Daar kan tussen vier soorte APS onderskei word , naamlik : perdesiektekoors , dunkop , dikkop en ’ n kombinasie van die twee .
PERDESIEKTEKOORS Perdesiektekoors verteenwoordig ʼn matige vorm van die siekte en word gekenmerk deur ʼn verhoogde koors wat vir een tot ses dae duur .
Hierdie perde se weerstand verlaag en hulle is meer vatbaar vir ʼn opvlamming ( terugval ) van galkoors . So ʼn toestand kan foutiewelik gediagnoseer word as ʼn terugval van perdesiekte tydens die hersteltydperk gedurende perdesiekte .
DUNKOP Dunkop verteenwoordig die ernstigste vorm van die siekte en het ʼn sterftesyfer van 90 %. Perde wat hiermee besmet is , toon ʼn hoë koors van 39 ° tot 40 ° C en ervaar asemhalingsprobleme . ʼn Afskeiding van die neus , wat met ander simptome van longontsteking gepaard gaan , is ook aanwesig . Besmette perde vrek gewoonlik so vinnig as 24 uur na die aanvang van koors .
DIKKOP
Die sterftesyfer is ongeveer 50 % en die volgende simptome is aanwesig : koors , swelling van die kop en oë , ʼn verlies aan slukvermoë , kolieksimptome en bloeding van die mond- en oogmembrane . Dikkop het gewoonlik ʼn stadiger vrekte tot gevolg , met besmette perde wat vier tot agt dae na die aanvang van koors vrek .
• GEKOMBINEERD
Perde met die gekombineerde tipe toon simptome wat algemeen by beide dun- en dikkop voorkom . Volgens die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid word dié sterftesyfer tussen 70 % en 80 % gereken .
SENWES SCENARIO | WINTER 2021 25