Senwes Scenario June - August 2021 | Page 12

NUUS

WERNICH

AANGEWYS AS NOORDWES SE JONGBOER VAN DIE JAAR

“ Die toekoms van landbou is in die hande van ʼn nuwe en jonger geslag en as ek om my rondkyk , dan raak ek opgewonde oor die toekoms .”
Annette Willemse Kommunikasiespesialis

Met dié woorde het Boeta du Toit , uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes . die toon aangegee vir die jaarlikse Agri Noordwes en Santam Landbou se Jongboer van die Jaar geleent- heid . Wernich Lemmer ( 34 ) van Agri Hartbeesfontein is tydens die geleentheid , wat deur Senwes aangebied is , as die wenner aangewys . Die naaswenners is Andries Coomas ( Agri Vryburg ) en Christo Greyling ( Agri Sannieshof ).

As die wenner sal Lemmer die provinsie later vanjaar in Agri SA en Toyota SA se Nasionale Jongboer van die Jaarkompetisie verteenwoordig . Agri Noordwes het op twee vorige geleenthede ( 2014 en 2018 ) met die nasionale Jongboer van die Jaar gespog .
In sy gelukwensing aan die wenners het Francois Strydom , Senwes Groep Hoof Uitvoerende Beampte , gesê dat die Suid- Afrikaanse landbou ʼn baie geseënde tydvak geniet met onder meer goeie neerslae , oeste wat belowend lyk en positiewe markpryse . Dit is binne hierdie milieu dat jong produsente ʼn sleutelrol speel . “ Plase en boerderye ontwikkel nie oornag nie , dit gebeur oor geslagte heen en jong produsente bevind hulself aan die voorgrond van ontwikkeling en vernuwing . Die toekoms van kommersiële landbou rus in hierdie en opkomende generasies se hande ,” sê Strydom .
Kyk die toekennings hier
MEER OOR DIE WENNER In die geval van Lemmer is landbou se wins , die ingenieurspraktyk se verlies .
As ʼn gekwalifiseerde en professionele meganiese ingenieur ( hy het sy B . Ing Meganiese Ingenieurswese-graad aan die Noordwes Universiteit verwerf ), het Lemmer as sisteemingenieur by die Matimba-kragstasie in Lephalale gewerk . Hy het dié beroepsveld in 2018 vaarwel geroep om voltyds in die familieboerdery betrokke te wees , en boer op die plaas Lemmersville .
Lemmer se boerderyvertakkings bestaan uit 80 % mielieproduksie en 20 % beesproduksie en dit is sy visie om die boerdery verder generies uit te brei en om ook ʼn derde kontantvloei-vertakking te begin . Laasgenoemde sal in geheel uiteindelik ʼn suksesvolle maatskappy vorm .
Op die vraag oor hoe hy die rol van jong produsente in die landbou sien , antwoord Lemmer dat jong produsente deur vernuwende praktyke en die gebruik van tegnologie nie net ʼn deurslaggewende rol in terme van voedselsekerheid speel nie , maar ook die grense verskuif in terme van internasionale kompeterendheid . In sy bedankingstoespraak het hy sy dank teenoor sy familie en gesin uitgespreek vir hul ondersteuning en vertroue . Hy is van mening dat produsente in goeie jare , soos wat tans die geval is , ʼn Josefsbeleid moet volg en reeds voorsienning moet maak vir uitdagende tye .
“ Die belangrikste is egter om as rentmeester nederig te bly en in jou geloof geanker te bly . As produsent is jou geloof jou belangrikste medewerker ,” sê Lemmer .
10
SENWES SCENARIO | WINTER 2021