Senwes Scenario Februarie / Maart 2019 | Page 31

JAG | HUNTING JAGTYD! Terwyl die somer se plesiertjies einde se kant toe staan, begin jagters se gedagtes te dwaal. Die onbekende van 'n jagseisoen wat voorlê, kan ’n jagter se gedagtes dae aaneen besig hou. Graag wil hulle voortbou op vorige jare se sukses, sonder om weer in dieselfde gat te trap van vorige jare se foute.  Deur Jan-Lodewyk Serfontein Jagkenner S aterdagoggend is dit juis een van die beplande jagdae met 'n be­­ plande bok op die wenslys. Die kinders is vroeg op en wakker, aangetrek, ingepak en gereed vir die dag. My dogter se eerste jag, wat maande lank beplan is, het aangebreek. Van inskiet op die baan tot skootplasings is bespreek en ingeoefen. Om die bok op die regte plek te tref op verskillende afstande, weet sy meer van as meeste ander jagters. Nou kan die dag verloop soos beplan. Maar wat doen ons as alles nie reg verloop nie? Sal sy weet hoeveel om te kompenseer as die bokke nie gaan staan waar hulle moet staan nie? Wat as die wind te veel waai? Sal sy oor die bokkoors kom, wat sekerlik gaan opduik nes die perfekte skoot homself voordoen? En dan moet sy net nie die bok kwes nie. Jou eerste bok moet 'n ervaring wees wat jy vir altyd wil onthou en vir altyd kan oorver- tel. Dit moet perfek wees. Gelukkig het die bok na ’n bietjie se rondloop presies plankdwars gaan staan. Nader aan 100m kon die bok nie gaan staan het nie. Nou kan die prentjie perfek ingekleur word, indien sy alles doen soos sy geoefen het. Die kruishaar het agter die bok se blad sy lêplek gaan soek. Die sneller druk was net soos wat sy geoefen het. En nog voor die skoot se klap insink, het die bok tussen die gras platgeval. Haar gesig kon stories vertel, woorde was daar nie, en haar asemhaling was meer opgewonde as nog ooit tevore! Vandag het alles pre- sies reg verloop sodat sy 'n perfekte dag kon hê. ’n Perfekte dag soos wat 'n trotse pa wil hê dit moet wees. Nadat die bok afgeslag is en die vleis in die koelkamer is, kan daar ontspan word. Stories kan vertel word en die dag kan oor en oor herleef word. Tussen deur al die nuwe stories, emosies en opge- wondenheid, kry ek die geleentheid om vir haar te vra hoe haar dag was en of sy weer ’n bok sal skiet. Behalwe ’n spon- tane antwoord van “natuurlik”, was daar nie veel meer oor die skiet gesels nie. Om in die veld te wees, te swem in die plaasdam en net kind te wees het haar dag gemaak! Later sit en herkou ek aan die lesse wat kinders ons leer. Vandag het die kinders my weer nuwe lesse geleer. Ons beplan maande lank aan 'n jagtog. Wat ons wil jag, waar dit gaan wees, hoe die bok moet staan en hoe ver hy moet staan. Ons beplan namens die natuur hoe ons wil jag, hoe ons die natuur wil ervaar. Vandag het my dogter my geleer dat ek jag moet geniet vir wat dit is en nie wat ons wil hê dit moet wees nie. Om in die natuur te wees, dit te ervaar en naby aan God se skepping te wees. Te staar in die vuur se vlamme, die naggeluide te geniet. Die onbekende te soek en geleenthede wat hulself net soms voordoen, te ervaar vir wat dit is. Geniet julle jagtyd! SENWES SCENARIO | KOPSKUIF 2019 29