Senwes Scenario Februarie / Maart 2017 | Page 56

••••
TOEKOMSFOKUS

Daar is verandering in die lug …

JENNY MATHEWS

Ons was ’ n groep boere wat op die ingewing van die oomblik besluit het om ons Saterdagaandbraai na die Klein Soutpan hier naby te verskuif . Die pan was vir jare kurkdroog - ons het selfs boeresport op die gladde oppervlak gehou - maar hierdie keer was anders . Hierdie keer het ons langs die blink water gesit en luister na die eende , terwyl die flaminke oor ons koppe gevlieg en op hul lang , maer bene geland het . Daar word vertel dat hierdie lank gelede ’ n gewilde broeiplek vir flaminke was , maar na die droogtes ... niks . Maar vir nou het ons net die oomblik geniet ... Die trekkers wat volstoom gedurende die week geplant het was nou stil ... Die kole het blink gegloei , die vleis was op die kole en die braaibroodjies het heerlik gelyk toe daar skielik ’ n sagte bui reën uitsak . In plaas daarvan om inderhaas op te pak en skuiling te soek , het niemand beweeg nie . Ons almal het in dankbare stilte , soos standbeelde , gesit en hemelwaarts

gekyk en die reëndruppels op ons gesigte ingedrink !
Die reën het slegs ’ n paar weke gelede begin en alreeds is die Meester se hand sigbaar in die groen en goud op die skilderdoek van die eens kaal en stowwerige landskap . Ons was eers doodbekommerd oor waar ons die volgende voerbale sou kry om ons maer vee mee te voer , terwyl ons nou bekommerd is oor waar die nuwe kallers in die lang gras wegkruip terwyl die koeie deur die groen weiding beur wat alreeds so hoog soos hul volgevrete pense staan ! Waar ons bekommerd was oor OF ons sal kan plant weens die droogte , is ons nou bekommerd oor HOE ons gaan klaarkry met die plant- en spuitprogramme omdat die lande te nat is !!!
Daar is beslis verandering in die lug … nie net weens die draai van die seisoen nie , maar ook weens die draai van die jaar . Ek geniet dit elke nuwe jaar om op te lees oor die tendense waaroor futuriste en scenariobeplanners rapporteer . Jim Carroll se artikels is baie interessant ( jimcarroll . com ), veral omdat hy op die landbousektor fokus . Hy is in pas met die realiteit dat boere baie uiteenlopende uitdagings in die gesig moet staar wat aanleiding kan gee tot negatiwiteit of onsekerheid oor die toekoms , MAAR Carroll sê dat hy merendeels boere teëkom wat entoesiasties en gedrewe is oor die toekoms van boerdery . Die wêreldbevolking groei teen ’ n geweldige pas , wat beteken dat landbouproduksie aansienlik sal moet styg . Dit skep groot geleenthede in die landbou . Vier tendense gaan hiermee gepaard : 1 ) Voedselsekuriteit het sy weg gevind tot by die middelpunt van nasionale agendas ; 2 ) Daar was ’ n beduidende verhoging in belegging in die landbou regoor die wêreld ; 3 ) Klante is meer bewus van en leer meer oor voedsel en volhoubare produksie ; en 4 ) Voedselkwaliteit en -veiligheid is onder die soeklig .
54
FEB / MRT 2017 • SENWES Scenario