Senwes Scenario Februarie / Maart 2017 | Page 51

•••••••

Sonneblomtyd - Voëljagtyd

JAN-LODEWYK SERFONTEIN
KOLSKOOT •••

Te danke aan beter reënval as die vorige jaar in groot dele van ons streek , staan die sonneblom met mooi groot koppe op die lande . Maar ongelukkig is die eienaars van al die sade nog nie bepaal nie . Is dit die boer se oes , of die duiwe se kos wat so mooi groei op die lande ?

Natuurlik wil die jagters sorg dat die sonneblomme die boer se oes bly deur vroegoggend lekker tussen die duiwe in te vaar met die haelgeweer . Maar met elke plesier kom daar tog ’ n verantwoordelikheid . Die verantwoordelikheid is om seker te maak dat ons te alle tye binne die wet bly . En wat sê die wet mag ons doen en wat nie ?
Vir die spesifieke artikel kan ons bietjie meer kyk na Natuurbewaring se wette rondom die jag van duiwe en ander voëls . Alle vuurwapenlisensiehouers ken die Vuurwapenwet relatief goed . Maar wat van al die ander voorwaardes as dit kom by jag . Kom ons kyk wat is die belangrikste regulasies wat ons moet onthou .
Volgens Natuurbewaring kry ons gewone wild asook diere wat skade veroorsaak . Diere wat skade veroorsaak is die maklike een om mee binne die wet te bly . Jy mag hulle die hele jaar deur skiet . Jy het slegs skriftelike toestemming of die teenwoordigheid van die plaaseienaar nodig om dié soort diere te mag skiet . Natuurlik kan ons nie met honde op iemand se grond gaan jag sonder sy skriftelike toestemming nie . Al het die grondeienaar skriftelike toestemming gegee dat op sy plaas gejag mag word , mag jaghonde nie gebruik word om te jag nie . Honde mag slegs die voëls wat gejag is gaan haal of vir die skut ander voëls uitwys . Indien dié twee voorwaardes nie nagekom word nie , kan Natuurbewaring boetes oplê .
Gewone wild het ’ n spesifieke seisoen waarbinne dit gejag mag word . Elke provinsie het sy eie ordonnansie . Die meeste provinsies se jagseisoen begin op 1 Mei en eindig op 31 Augustus . Binne die jagseisoen is daar ook ander voorwaardes waaraan voldoen moet word . Belangrik vir gewone wild is dat die jagter ’ n jaglisensie in sy naam moet hê . Daar is ook ander voorwaardes , maar hulle verskil van provinsie tot provinsie . Kontak dus jou naaste Natuurbewaringskantoor om die nuutste ordonnansie te kry en te lees .
Wat die oes aanbetref , geld die volgende . Duiwe word gesien as diere wat skade veroorsaak . Daarom mag enige skut in die dag (’ n halfuur voor sonop tot ’ n halfuur na sononder ) op enige plaas , met toestemming , duiwe jag . Gebruik honde net om die voëls wat jy ge skiet het , te gaan haal .
Maar tussendeur die duiwe sien jy dalk ’ n tarentaal of ' n fisant . Wat doen jy nou ? Wel , tarentale en die meeste ander jagvoëls is gewone wild volgens Natuurbewaring . Daarom mag ons hulle eers skiet nadat die jagseisoen oopgemaak het . Jy moet in besit wees van ’ n jaglisensie , asook skriftelike toestemming om op die plaas te mag jag . Daar mag ook net ’ n sekere hoeveelheid voëls per dag gejag word .
Geniet dus die jag van duiwe tussen die sonneblomme . Los maar eers die tarentale uit tot en met Mei . Onthou om te alle tye veilig en verantwoordelik op te tree in die jagveld .
SENWES Scenario • FEB / MRT 2017 49