Senwes Scenario Desember 2015 / Januarie 2016 | Page 25

••• N UUS MARIETJIE GROBLER GOSA-lede trek saam en hou ‘n gròòt werkswinkel D ie jaarlikse GOSA-werkswinkel het op 14 Oktober 2015 by Nampopark plaasgevind. GOSA is die Graanhanteringsorganisasie van Suider-Afrika en sy lede is verteenwoordigend van die totale graanwaardeketting, insluitend landboumaatskappye en graanbemarkers, banke, vervoermaatskappye, asook verskaffers van infrastruktuur, toerusting, berokingsmiddels, opleiding, laboratoriumdienste, ensovoorts. Die belangstelling was hierdie jaar uitsonderlik groot en waar die werkswinkel in die verlede in die Sampisaal plaasgevind het, moes dit noodgedwonge na die groter Fanie Ferreirasaal verskuif word. Ongeveer 200 verteenwoordigers van 35 maatskappye het die werkswinkel bygewoon. Die tema was hierdie jaar “Winde van Verandering” en ds Gerrie Botha van die Hervormde gemeente Viljoenskroon het die verrigtinge op ‘n gepaste wyse met Jes 41 : 10 as teksvers geopen. Daarna het Pieter Esterhuysen van Successions gesels oor die rol wat konflik in besigheid speel en dat dit nie noodwendig sleg is nie. Chris Lombaard is ‘n ElektrieseIngenieur wat die kwessie van alternatiewe energie bespreek het. Hy het verwys na verskeie projekte wat suksesvol geïmplementeer is, maar ook gewaarsku dat dit nie so maklik is om geheel en al onafhanklik van die energienetwerk te funksioneer nie. Mikotoksiene kan ‘n groot probleem raak indien korrekte graanhanteringsmetodes nie toegepas word nie en Wiana Louw van die SAGL het gesels oor mikotoksiene wat algemeen op die verskillende graansoorte aangetref word, asook die faktore wat die voorkoms daarvan verhoog. Pieter Fourie, bekende Raadgewende Ingenieur in die graanbedryf, het sy kennis oor deurlugting kom deel en verduidelik hoe dit aangewend kan word om graan te kondisioneer indien die bestuur van temperatuur en relatiewe humiditeit korrek toegepas word. ‘n Kwessie wat altyd onder bespreking bly in die graanbedryf, is graangradering. Hierdie jaar is meer lig gewerp op onduidelikhede met betrekking tot sojaboongradering en die bespreking is gelei deur Peet van Heerden van PPECB. Hy het verwys na regulasies (wetgewing) wat moontlik in die komende jaar kan verander. ‘n Ou bekende in die graanbedryf en GOSA-raadslid, Jan de Sousa, het sy ervaring met betrekking tot die hantering van oliesade gedeel. Klem is gelê op korrekte bergings- en hanteringsmetodes van veral sojabone. Ontstellende beeldmateriaal is ook gebruik om te illustreer wat gebeur indien korrekte praktyke nie toegepas word nie en die fisiese graanverliese wat dan verwag kan word. Teen die einde van die werkswinkel het elke verteenwoordiger opnuut besef hoe veranderlik die graanhanteringsomgewing is en hoe groot die verantwoordelikheid is wat op elkeen se skouers rus om die land en die wêreld van veilige voedsel te voorsien. SENWES Scenario • Desember 2015/Januarie 2016 23