Senwes Scenario December - January 2021 | Page 44

NEWS

SA wildbedryf : ʼn dekade van groei én bloei

Die Suid-Afrikaanse wildbedryf het in die laaste dekade heelwat veranderinge en uitdagings beleef en gevolglik ʼn beduidende rol in die groter waardeketting gespeel . Dr Flippie Cloete , Hoof van Kommersiële Agri-Finansiering by Senwes , het tydens die program , Landbou Radio , sy siening oor dié bedryf gedeel .
Annette Willemse Kommunikasiespesialis

Volgens dr Cloete het die

stabilisering van veral die teel en handel van die lewendehawesegment vir groot hoogtepunte gesorg . Areas van impak sluit onder meer in farmaseutiese ontwikkelinge ( dieregesondheid ), vervoer , voeding , veilingsplatforms en bemarking . Hy meen voorts dat die bekendstelling van wildversekering ʼn betekenisvolle bydrae gelewer het deurdat dit wildsboere en beleggers toelaat om hul risiko ’ s te verskans , terwyl dit ook beleggingsbesluite vergemaklik .
Suid-Afrika is , volgens dr Cloete , besig om met ʼn hernieude dryf die jagbedryf , veral in terme van die internasionale jagmark , weer op dreef te kry na ʼn tydperk ( 2010 tot 2015 ) waartydens die fokus grotendeels op die teling van wild geval het . Gedurende hierdie tydperk het die land ʼn aansienlike deel van sy markaandeel teenoor lande soos Namibië verloor , gedeeltelik as gevolg van negatiewe te- lingspraktyke .
Wildveilings het , volgens dr Cloete , merkwaardige groei en ontwikkeling ervaar oor die afgelope tien jaar . Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan ʼn konstante toename in pryse en die winsgewendheid van die meeste wildspesies . Hy verduidelik dat veilings voorts nie net ʼn aantreklike alternatief aan beleggers bied nie , maar ook as alternatiewe bemarkingsplatform gebruik word . Koop-en-verkoop tendense toon dat die prys vir groter wildsoorte ( soos blouwildebees , gemsbok , koedoes en elande ) bestendig vertoon , terwyl kleiner wildsoorte ( soos springbokke , rooibokke en blesbokke ) besig is om terug te sak na vlakke wat in 2005 behaal is . In hierdie verband speel kleurvariant ook ʼn rol omdat die aanbod voortdurend toeneem en pryse verlangsaam .
Die koronaviruspandemie het ʼn groot impak op die bedryf gehad en as gevolg van onder meer volgehoue reisbeperkings en gepaardgaande veiligheidsmaatreëls , sal die pandemie voortgaan om ʼn negatiewe uitwerking te hê . Die suksesvolle bestuur en ontwikkeling van stil- en aanlynveilings sorg egter vir ʼn veer in die hoed van die bedryf en volgens dr Cloete , verlig dié inisiatiewe nie net die druk op die veilingkalender nie , maar dit vergroot die reikafstand van veilingshuise terwyl die potensiële koper ook voordeel trek . Die koper kan in die gemak van sy eie huis aktief deelneem aan meer as een veiling op dieselfde dag , iets wat voorheen nie haalbaar sou wees nie .
Eksterne faktore wat ʼn impak op die bedryf het , sluit in die veranderende ekonomiese en politieke landskap , beleidsonsekerheid , dienslewering en aspekte soos grondhervorming , waaroor daar nog nie klarigheid is nie .
42
SENWES SCENARIO | SOMER SUMMER 2020