Senwes Scenario December - January 2021 | Page 32

LANDBOUKUNDIG

Die lus vir aartappels nog lank nie geblus

Die naam van Aartappels Suid-Afrika ( ASA ) se nuwe ‘ Amazambe for Life ’-veldtog is ʼn mondvol !
Annette Willemse Kommunikasiespesialis

As jy in ag neem dat aartappels

wêreldwyd die vierde grootste verbruikte voedselsoort naas mielies , koring en rys is , word dit gou duidelik dat die lus ( en voorliefde ) vir aartappels nog lank nie geblus is nie . ‘ Amazambane ’ is die Zoeloe-woord vir aartappel en die veldtog poog om nie net die veelsydigheid van dié knolgroente te beklemtoon nie , maar ook om die talle gesondheidsvoordele hiervan aan Suid- Afrikaners bekend te stel . Die aartappelwaardeketting staan sentraal tot die veldtog en volgens ASA is dit belangrik om verbruikers in te lig oor die verskillende rolspelers wat ʼn aandeel daaraan het om dié stapelvoedsel van die grond na die bord te bring .
Volgens Immaculate Zinde , ASA se bemarkingsbestuurder , poog die veldtog voorts om Suid-Afrikaners te motiveer om hul verhouding met aartappels te heroorweeg , veral in die lig van die feit dat baie gesinne sukkel om kos op die tafel te sit ten tye van die koronaviruspandemie . “ Ons wil vir mense verduidelik hoe belangrik ʼn gebalanseerde dieet is en dat aartappels ʼn voedsame stapelvoedsel kan wees ,” sê Zinde en voeg by dat die veelsydigheid van aartappels daartoe bydra dat dit as die ideale styselaanvulling beskou word .
GESONDHEID UIT DIE GROND UIT Aartappels is propvol voedingstowwe soos kalium , vesel , vitamine C en koolhidrate en volgens Zinde , bevat ʼn enkele aartappel slegs 110 kalorieë . Dit moet ook nie uit die oog verloor word nie dat aartappels vetvry en cholesterolvry is , terwyl dit ook geen natrium bevat nie .
Volgens die World Journal of Cardiology , voorkom aartappels die vorming van skadelike vry radikale , wat in die liggaam ophoop en kan bydra tot chroniese siektetoestande soos hartsiektes , diabetes en kanker .
ʼn LEWENSVATBARE BEDRYF Die veldtog fokus ook op die impak wat die aartappelwaardeketting op die Suid- Afrikaanse ekonomie het . " Die toename in aartappelverbruik in Suid-Afrika gedurende die afgelope tien jaar bevestig dat die belegging in marktoegang en -ontwikkeling , sowel as generiese produkbevordering , vrugte afwerp ," sê Zinde .
Sy voeg by dat ASA daarna streef om voortgesette ontwikkeling en omgewingsvriendelike bedryfstoestande vir die aartappelbedryf daar te stel , wat onder meer die behoud van natuurlike hulpbronne , die instandhouding van landbougrond en die verbetering van produksieen bemarkingsmetodes insluit .
30
SENWES SCENARIO | SOMER SUMMER 2020