Senwes Scenario December - January 2021 | Page 31

LANDBOUKUNDIG

VOORKOMS VAN SNYWURMS

LAAT DIE GEVAARLIGTE FLIKKER

Die voorkoms van snywurms in die somerreënvalstreek mag vanjaar ʼn potensiële uitdaging vir produsente inhou . Dit is die mening van kundiges by CropLife SA nadat verskeie uitbrekings van dié wurm deur klein en kommersiële produsente aangemeld is .

Volgens ʼn verklaring wat deur

CropLife SA uitgereik is , kom die grootste besmetting tans in Kwazulu-Natal , Limpopo , die westelike dele van Mpumalanga , die noordelike en oostelike dele van Gauteng , die Vrystaat en dele van die Oos-Kaap voor .
Annette Willemse Kommunikasiespesialis
Terwyl mielieboere in Kwazulu-Natal grootskaalse skade aan pas aangeplante mielies aangemeld het , het produsente in die Vrystaat groot hoeveelhede van verskillende snywurmspesies opgemerk namate hulle saadbeddings vir aanplantings voorberei het .
MEER OOR SNYWURMS Snywurms verteenwoordig ʼn wydversprei- de en baie algemene plantplaag en word as ʼn tipiese Lepidoptera-plaag beskryf .
Laasgenoemde begin met motte wat gebiede met gewasse binnedring , paar en eiers lê . Sodra die eiers uitgebroei het , begin groot larwes jong plante aanval .
Die volgroeide larwes bly in die grond tot die einde van die winter en begin van die lente . In hierdie tyd oorleef die larwes van onkruid en wintergewasse . Gedurende Augustus en September vorm die oorwinterde larwes ʼn papie wat in ʼn papiesel in die grond voorkom en na ongeveer twee weke kom die eerste motte van die nuwe seisoen te voorskyn .
Dié grysbruin motte hou ʼn groot bedreiging vir mieliesaailinge in omdat hulle eiers op die blare van onkruid en opslag wat in die lande voorkom , lê . Na ongeveer ʼn week broei die larwes uit en na ʼn tweede vervelling , kruip die groot , vet larwes in die grond in en vreet snags aan saailinge .
Een larwe kan ʼn groot aantal mieliesaailinge in ʼn enkele nag vernietig .
BEHANDELINGSOPSIES Vroeë aanduidings is dat snywurms ʼn mate van weerstand ontwikkel het teen die piretroïdinsekdoders wat geregistreer is om snywurms te bekamp . In die lig hiervan word produsente aangeraai om hierdie insekdoders toe te dien teen die hoogste dosis , soos aangedui op die etikette , en so vroeg moontlik nadat die wurms uitgebroei het .
Produsente word aangemoedig om foto ’ s van goeie gehalte met slimfone te neem en dit per Whatsapp na die CropLifeSA-noodnommer 082 446 8946 te stuur vir verifikasie en identifikasie deur spesialisentomoloë . ʼn Lys van insekdoders wat vir die bekamping van snywurms geregistreer is , is op die CropLife SA Agri-Intel-databasis by www . agri-intel . com beskikbaar .
SENWES SCENARIO | SOMER SUMMER 2020 29