Senwes Scenario December 2021 - February 2022 | Page 7

NUUS
DIE TYD VLIEG BEHOORLIK !
Oor ʼn paar weke is dit die einde van die jaar en dan staan ons voor die begin van ʼn nuwe jaar , wat ons almal weer nuwe energie gee , en waarna ons almal uitsien . Vandag lê alles as ’ t ware agter ons , en môre lê alles voor ons .
Wat sê ʼn mens na ʼn jaar soos 2021 ? Ons leef steeds met die Covid-19-pandemie saam en die sogenaamde ‘ nuwe normaal ’ is nou onteenseglik deel van ons alledaagse bestaan . Masker dra is wet , ons is gesout met kuber-kuiers en konferensies en die bladskud van ouds het nou plek gemaak vir die waai van die hand of ʼn elmbooggroet .
Dit bring my by ons Kersboodskap vir die jaar .
Dit is ʼn behoefte van die hart om so aan die einde van 2021 uit te reik na ons Senwesfamilie : ons aandeelhouers , kliente , personeel , besigheidvennote en die breër gemeenskap . As ons terugkyk na die jaar kan ons onomwonde getuig dat die spreekwoordelike dubbelspore meermale ʼn enkel ry spore geword het . Hy het ons gedra – tot hiertoe .
Een van die geheime van ʼn gelukkige lewe is dankbaarheid . As ek en jy dit kan regkry om met dankbaarheid te leef , verander dit die wêreld vir ons . Dankbaarheid help ons om verby die dinge te kyk wat die lewe vir ons moeilik maak en stel ons in staat om die seën wat ons het raak te sien .
Dankbaarheid word egter eers ʼn realiteit in ons lewe as ons besef dat alles wat ons het ʼn geskenk van Bo is . Om te kan glo – ʼn geskenk , om te kan werk – ʼn geskenk , om ʼn familie te hê – ʼn geskenk . So kan ons aangaan en kan jy nog byvoeg .
Dankbaarheid is egter nie net ʼn emosie nie , maar gaan altyd oor tot aksie .
Met dankbaarheid in my hart , wens ek u en u gesin ʼn baie geseënde Kersfees toe , kom ons gaan 2022 met dankbaarheid in ons harte , tegemoet .
Groete Danie Minnaar
SENWES SCENARIO | SOMER SUMMER 2021 5