Senwes Scenario December 2021 - February 2022 | Page 6

NUUS

KERSBOODSKAPPE

Die jaar het omtrent verbygesnel en dit is amper met ʼn skok dat ʼn mens besef dat die einde van 2021 net om die draai is .
Jy sal met my saamstem dat 2021 , soos sy voorganger , uitsonderlike uitdagings aan elkeen van ons gestel het . Om die waarheid te sê , die lysie van wat alles met mense naby en ver van ons gebeur het , is lank . Behalwe vir die skadu van die voortslepende Covid-19-pandemie , moes Suid-Afrikaners bonop nog met die gevolge van ʼn geplunderde staatskas , ʼn ekonomie in resessie , ʼn werkloosheidskrisis en die groeiende behoefte aan dienste en maatskaplike bystand saamleef .
Dit sal daarom maklik wees om ons ( moedelose ) stemme tot soveel ander te voeg en dié jaar as gekompliseerd , onseker , hartseer , frustrerend en uitdagend te bestempel . Die teenoorgestelde is egter ook waar : soos die dae stiller en rustiger word , kan ons meer bewustelik leef en reflekteer op alles , en dan word dit duidelik dat 2021 ook meer as sy deel van genade , goedheid en guns opgelewer het .
Senwes kan met dank terugkyk op nog ʼn geseënde jaar .
Die 2020-2021-boekjaar het rekord finansiële resultate opgelewer , en ses maande in die nuwe boekjaar kan ons trots aankondig dat ons omset met 47,8 % gegroei het .
Dit gaan ook goed met die landbousektor . Volgens die Nasionale Oesskattingskomitee is die voorneme om 2,7 miljoen hektaar mielies aan te plant , terwyl Suid-Afrika sy grootste sojaboonoes ooit kan lewer .
In die lig hiervan kan ons net ons dankbaarheid teenoor ons aandeelhouers , kliente , personeel , besigheidvennote en die breër gemeenskap betuig . Sonder julle onlosmaaklike verbintenis tot die Senwes Groep , sou ons nie sukses kon behaal nie .
Ons besef opnuut dat die sukses van ons besigheid reeds vir 112-jaar voortspruit uit die unieke verhouding wat ons met elkeen van hierdie belangegroepe het ; daarom koester ons dit soos ’ n kleinood van ouds . Aan die einde van die dag is dit dié verhoudings wat ons die uitdagings van die besigheidsomgewing laat oorwin en ons in staat stel om aktief deel te neem aan die opbou , uitbou en voortbou van die Suid- Afrikaanse landbou-en voedselsektor .
Ek wens vir u hierdie Kersseisoen rus en vrede en hartlike samesyn met u geliefdes toe . Mag die nuwe jaar ʼn tyd van seën wees en mag voorspoed elkeen se deel wees .
Vriendelike groete van die Senwesspan .
Francois Strydom Senwes HUB
4
SENWES SCENARIO | SOMER SUMMER 2021