Senwes Scenario December 2021 - February 2022 | Page 56

NUUS

VUIL , VUILER , VISRIVIER

Die invloei van onverwerkte riool in die Groot-Visrivier by Cradock draai tans in die hooggeregshof in Makhanda nadat Agri Oos-Kaap ʼn toesighoudende bevel bekom het om dié besoedeling te probeer stuit .
Annette Willemse Kommunikasiespesialis

Volgens ʼn verklaring wat deur Agri Oos-Kaap uitgereik is , sal die bevel die Chris Hani-distriksmunisipaliteit dwing om dringende stappe te doen om die huidige situasie reg te stel . Tans vloei onverwerkte rioolvuil in Cradock regstreeks in die Visrivier en probleme word by verskeie watersuiweringsaanlegte in dié distriksmunisipaliteit ervaar .

RIOOLBESOEDELING DRA STRAKS BY TOT VEEVREKTES
Netwerk24 het vroeër vanjaar berig dat daar kommer bestaan dat die invloei van onverwerkte rioolvuil moontlik verband hou met veevrektes in die distrik .
Volgens Agri Oos-Kaap dra die unie kennis van die veevrektes , maar kan daar nie onomwonde gesê word dat dit as gevolg van die besoedeling is nie . Die unie meen wel dat hy regstappe sal oorweeg as daar nie daadwerklike optrede gedoen word om die storting te stuit nie .
Brent McNamara , uitvoerende hoof van Agri Oos-Kaap , sê in die uitgereikte verklaring dat die unie intussen ingegryp het nadat van sy lede kommer uitgespreek het oor die gevolge van die rioolstorting op landboubedrywighede stroomaf .
McNamara vertel voorts dat ʼn ondersoek ter plaatse in Cradock getoon het dat riool by minstens ses plekke in die Visrivier invloei terwyl vyf pompstasies en gepaardgaande watersuiweringsaanlegte wanfunksioneel is . Die ondersoek het ook getoon dat riool by byna elke mangat al langs die rioolstelsel uitlek , terwyl riool by sommige van dié mangate uitborrel en ʼn stroom na die rivier vorm .
* Die resultate van hierdie ondersoeke het deel uitgemaak van die dokumentasie wat op 25 November in die hof gedien het .
54
SENWES SCENARIO | LENTE SPRING 2021