Senwes Scenario December 2021 - February 2022 | Page 4

Uit die Woord
ALGEMEEN | GENERAL
COLUMN | RUBRIEK

Redakteursbrief

Besig om besig te wees ...

Die jaar het verby gesnel en dit is wrintiewaar reeds Desember ! Ek weet nie van jou nie , maar dié besef het my so half onkant gevang … daar is mos nog soveel dinge wat gedoen moet word , of hoe ?

Soos ek deur my doenlysie werk en planne maak om die tyd uit te koop , wil-wil ʼn steeksheid in my binneste nesskop . Om besig te wees , is die modus operandi van die dag en ons is so besig om besig te wees dat die dinge wat regtig saak maak by ons verby gaan .

Dink ʼn bietjie hieroor . Wanneer laas het jy net rustig op die stoep gesit en na die getjirp van die voëls geluister ? Wanneer laas het jy en jou kinders prentjies in die wolke gesoek ? Wanneer laas kon jy net wees , sonder blitsboodskappe op selfoonskerms , doenlysies en ʼn horde ander verpligtinge ?
Nou is die tyd om rustig te raak . Jouself te besig met dinge wat ewigheidswaarde het .
Die tema van vanjaar se Senwes Kersboomprojek was Plaas Kersfees en dit het my opnuut herinner aan die ontsaglike waarde wat daar in eenvoud opgesluit lê . ʼn John Deere-trekker , ʼn man met ʼn wit baard en ʼn rooi pak klere en vriendelike Senwesters was al wat nodig was om glimlagte op jong gesiggies te sit . Dit en die wete dat tyd vir ʼn oomblik as ’ t ware stilstaan terwyl daar saam gelag , gespeel en geëet word .
Mag jy en jou geliefdes ʼn soortgelyke Feestyd geniet . Een waar tyd die grootste geskenk is wat jy aan jou naastes én jouself gee .
Geseënde Kersfees en ʼn voorspoedige 2022 !
Annette Willemse
REDAKTEUR

Uit die Woord

Johan Schoeman

Nuwejaarsvoorneme ...

Kyk agtertoe , besin en kyk dan vorentoe .
Januarie maand se naam is afgelei van dié van ʼn Romeinse god genaamd Janus . Hy het twee gesigte gehad ; een wat vorentoe en een wat agtertoe gekyk het . Dit is ook hierin waarin die konsep van nuwejaarsvoorneme sy oorsprong het .
Aan die einde van ʼn jaar kyk ons terug op die jaar wat verby is , op hoe ons geleef het en wat ons gedoen het . In kort : ons besin oor hoe ons in die lewensspel gevaar het . Hierdie nabetragting behels dat ons vorentoe kyk , gegewe ons ervaringe in die verlede , om te “ sien ” wat ons anders wil doen en hoe ons anders wil wees . Gegrond op hierdie bestekopname maak ons dan die voorneme om anders op te tree .
Nuwejaarsvoorneme en bekering loop nogal hand aan hand , want bekering is ook op voornemens gegrond na aanleiding van ʼn wilsbesluit om anders te leef .
Die Woord van God maan ons om gereeld agtertoe te kyk , te besin en dan vorentoe te kyk . Paulus skryf in 2 Korintiërs 13:5 : Stel julle self op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe . Paulus sê vir ons ; kyk agtertoe , besin oor jou lewe en kyk dan vorentoe . Vra jouself af ; “ Is ek waar God wil hê ek moet wees , doen ek wat God wil hê ek moet doen , is ek op pad om die oorwinnaarskroon te ontvang ?”
Die Prediker boek lewer ʼn kragtige voorbeeld van iemand wat gereeld in sy lewe agtertoe gekyk en besin het oor sy lewe , en dan vorentoe gekyk het en met nuwe voornemens geleef het . Hy moes telkens erken dat dit wat sy energie opgevreet het , net ʼn gejaag na wind was . Aan die einde van sy lewe deel hy die volgende met ons ; … die slotsom van alles wat jy gehoor het , is dit : Dien God en gehoorsaam sy gebooie . Dit is wat van die mens gevra word . God sal rekenskap eis oor alles wat gedoen word , ook oor wat in die geheim gedoen word , of dit goed is of kwaad .
Ons hoef nie dieselfde fout as die Prediker te maak nie . Maak dit nou jou fokus om vanuit God , die Bron van ware lewe te leef . Mag Hy jou hierin lei en mag dit jou voorneme vir 2022 wees .
2
SENWES SCENARIO | SOMER SUMMER 2021