Senwes Scenario December 2021 - February 2022 | Page 38

NUUS

REGERING STEL WAGHOND AAN OM HEUNINGBEDROG TE STUIT

Die Suid-Afrikaanse Departement van Landbou , Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het ʼn waghond aangestel om verbruikers en vervaardigers van heuningprodukte te beskerm teen produkte van sub-gehalte .
Annette Willemse Kommunikasiespesialis

Hierdie produkte word heel dikwels vermeng of verdun met ander stowwe , soos byvoorbeeld suikerstroop of heuning van ʼn swak gehalte . Derhalwe die aanstelling van Impumelelo Agribusiness Solutions , wat aangestel is om sowel ingevoerde as plaaslik vervaardigde heuning te inspekteer . Strenger beheer en toetse sal ook voortaan gedoen word om te verseker dat heuningprodukte bo enige verdenking is .

Heuningbedrog is wêreldwyd ʼn probleem en omdat Suid-Afrika heuning teen goedkoper pryse invoer as wat dit plaaslik vervaardig word , skep misleiding oor die egtheid en afkoms van heuningprodukte ook hier ʼn daadwerklike uitdaging vir verbruikers . Plaaslike vervaardigers word weer op hul beurt ingeloop omdat hulle nie kan meeding met die goedkoop ingevoerde heuning wat op ʼn bedrieglike manier as “ Suid- Afrikaans ” verkoop word nie .
EGTHEID EN OORSPRONG VAN HEUNING MOET NAGESPOOR WORD
Volgens die departement is daar toenemend meer belangstelling in en aanvraag na maniere hoe die egtheid van heuning geverifieer kan word ten einde verbruikers en vervaardigers teen uitbuiting te beskerm .
Die noodsaaklikheid van ʼn wetenskaplike metode om heuning te klassifiseer is volgens die departement ʼn baie belangrike uitdaging . So ʼn metode moet egter bekostigbaar en maklik bekombaar wees vir beide klein en kommersiële heuningboere .
Tans word heuning deur die departement gereguleer en die gehalte van heuningprodukte val onder die Wet op die Standaarde van Landbouprodukte . Hiervolgens word minimum vereistes gestel vir aspekte soos verpakking , produkinligting en die gradering van heuning wat verkoop word .
Hierbenewens word die vermenging van heuningprodukte ook gereguleer .
Die departement doen ʼn beroep op vervaardigers , invoerders en verwerkers van heuning om aan alle regulasies vir sowel plaaslike vervaardiging as invoere te voldoen . Dit sluit onder meer in om aan doeanebeamptes die korrekte inligting én beskrywing van ingevoerde heuning te verskaf .
Die nodige invoerpermitte wat die departement oor die veiligheids- en gesondheidsvoorwaardes van invoer vereis , moet ook ingedien en aan voldoen word .
MELD KLAGTES HIER AAN Die departement moedig verbruikers en vervaardigers aan om enige klagtes of bedenkinge wat hulle oor heuningprodukte mag hê , by Impumelelo Agribusiness Solutions aan te meld deur ʼn e-pos te stuur na inspections @ impumeleloagbiz . co . za .
36
SENWES SCENARIO | SOMER SUMMER 2021