Senwes Scenario December 2021 - February 2022 | Page 34

NUUS

FALCON

VERWELKOM NUWE BESTURENDE DIREKTEUR

Jacques Pretorius is met die ingang van 1 September 2021 as besturende direkteur by Falcon aangestel . Hy neem dié rol oor van Martin Coetzee , wat aan die einde van Augustus 2021 uit die pos getree het .
Anna du Plessies Bemarkingsbestuurder : Falcon

Jacques het in Wesselsbron grootgeword en het aan die Hoër Tegniese Skool ( HTS ) in Sasolburg gematrikuleer . Hy begin sy loopbaan by die destydse Sentraalwes Koöperasie in Parys , waar hy homself as ʼn John Deere Tegnikus bekwaam . Hy sluit in 2003 by die gesin se familiesaak in die motorbedryf aan en na drie jaar as werkswinkelvoorman en medebestuurder , word hy deel van die Senwes Equipment-span . Hier vervul hy verskeie posisies , onder meer dié van ʼn John Deere en diverse produkte tegnikus , werkswinkelbestuurder , tegniese adviseur en diensbestuurder .

Jacques se ondervinding en in-diepte kennis van die sektor en die agri-besigheidsomgewing maak van hom die ideale persoon om die Falcon-span te lei .
MPO HERSTRUKTURERING LEI TOT PERSONEELVERMINDERING
In die proses van herstrukturering by die Melkprodusente-organisasie ( MPO ), was die organisasie genoodsaak om die personeeltal met bykans 60 % te verminder .
Annette Willemse Kommunikasiespesialis

Die organisasie het onlangs tydens ʼn spesiale byeenkoms erkenning gegee aan personeel en Fanie Ferreira , waarnemende uitvoerende hoof van die organisasie , het elkeen bedank vir hul lojaliteit en harde werk . “ Ons is dankbaar vir dit wat julle deur die jare vir die MPO en sy lede beteken het , jul bydraes was van onskatbare waarde ,” het Ferreira gesê .

Colin Wellbeloved , voorsitter van die MPO-direksie het dit beaam en namens die produsentedankie gesê . Hy het sy hoop uitgespreek dat dit met elkeen van die mense voorspoedig sal gaan in wat ook al hul in die toekoms mag aanpak .
Volgens Wellbeloved is die oogmerk van die herstrukturering om ’ n meer vaartbelynde , buigsame organisasie wat gefokus is op die bedryf se kernfunksies vir sy lede daar te stel . Die MPO sal steeds waardevolle markinligting verskaf wat aan lede ’ n stewige platform bied vanwaar koop- en verkooptransaksies kan plaasvind .
“ Ons visie is om op gedissiplineerde wyse sakeontwikkeling na te streef en sodoende die mark uit te brei ,” aldus Wellbeloved .
32
SENWES SCENARIO | SOMER SUMMER 2021