Senwes Scenario December 2021 - February 2022 | Page 31

NUUS

LEIERBOER

JACO MINNAAR

GLO IN LANDBOU SE ROOSKLEURIGE TOEKOMS

Jaco Minnaar , leierboer van die Vrystaat en die nuutverkose president van Agri SA meen die plaaslike landbousektor het ʼn rooskleurige toekoms , ondanks verskeie uitdagings .
Annette Willemse Kommunikasiespesialis

Hy is ook van mening dat die private sektor ʼn al hoe groter rol in die sektor gaan begin speel en dit stem hom positief .

Vir Minnaar wat tydens Agri SA se jaarkongres as president aangewys is , is dit ʼn voorreg , maar ook ʼn groot verantwoordelikheid om hierdie soort leierskap in landbou aan te pak .
In ʼn onderhoud met Netwerk24 het Minnaar , wat sedert 2009 by Graan SA betrokke is en vanaf 2015 tot 2019 die voorsitter was , gesê hy is vol lof vir die bestuurspan van die organisasie . Hy neem die presidentskap oor vanaf Pierre Vercueil , wat vroeër vanjaar sy uittrede aangekondig het . Gedurende sy loopbaan by Agri SA het Vercueil onder as adjunkpresident diens gedoen alvorens hy in November 2019 die leisels by Dan Kriek oorgeneem het . Landbou kan en moet ʼn verskil maak Volgens Minnaar beoog hy om nou saam met die regering te werk , maar die uiteindelike verantwoordelikeheid om ʼn verskil te maak lê by landbou .
“ Ons moet van ons eie kant af veiligheid op plase verseker en die verval van die platteland teëwerk . Die uitdaging in landbou is dieselfde as vir die land : om die ekonomie so te groei dat geleenthede geskep word vir bestaande sowel as nuwe toetreders . Groter ekonomiese aktiwiteit sal ook werksgeleenthede en ontwikkeling asook die instandhouding van infrastruktuur meebring ,” sê Minnaar .
Hy sê verder dat landbou die hoeksteen is van enige samelewing , en veral in Suid- Afrika omdat dit die dryfveer ager die plattelandse ekonomieë is en baie lewens en gemeenskappe van landbou afhanklik is vir hul bestaan . Juis hieroor is die tyd van kop in die sand druk en te wil isoleer van die res van die land en gemeenskappe buite die kwessie , sê Minnaar .
KONGRES GOED ONTVANG Vanjaar se Agri SA jaarkongres is baie goed ontvang , en is onder meer deur Pravin Gordhan , minister van openbare ondernemings , en Thoko Didiza , minister van landbou , grondhervorming en landelike ontwikkeling bygewoon .
Hierdie bywoning en deelname van hoëvlak regeringsverteenwoordigers dui volgens Minnaar op die belangrikheid van Agri SA se rol in die landbousektor , asook die groot verskil wat die organisasie in die sektor bewerkstellig . “ Die boodskap van albei ministers wat baie positief , en het juis beklemtoon hoe nodig die staat ook die private sektor het om te kan oorleef en te groei ,” vertel Minnaar .
Samewerking met die staat is egter nie sonder uitdagings nie , waarvan kapasiteit en die belyning van strategieë in baie gevalle as struikelblokkie dien .
Minnaar reken dit is veral sake soos eiendomsreg , markontwikkeling , infrastruktuur en wetgewing wat nouer samewerking tussen die regering en die landbousektor sal noodsaak . Hy beklemtoon dit egter dat samewerking nie beteken dat daar goedsmoeds ingekoop sal word in die regering se ideologiese denkwyse en sienings nie .
DIE MEESTERPLAN VIR LANDBOU
Minnaar is baie positief oor die meesterplan vir landbou ( AAMP ) synde dié plan transformasie in die sektor asook landbouverwerking ten doel het .
Die plan sal volgens hom ook help om voedselsekerheid in die land te verhoog , inklusiewe groei te bevorder en ʼn mededingende waardeketting vir die bedryf te skep . Volgens Minnaar kan die plan voorts bydra tot die skep van R32 miljard se bruto-produksiewaarde en sorg dat 410 000 hektaar grond gebruik kan word vir verbouing . Laasgenoemde kan tot die daarstelling van 71 487 nuwe werksgeleenthede sorg , terwyl dit ook tot die totstandkoming van 6 500 nuwe klein-en middelslagondernemings kan lei .
SENWES SCENARIO | SOMER SUMMER 2021 29