Senwes Scenario December 2021 - February 2022 | Page 14

LANDBOUKUNDIG

HOE LYK REËNVAL- VOORUITSIGTE VIR DIE RES VAN DIE SOMER ?

Die 2020 / 21-seisoen was een van die beste seisoene vir landbou in ‘ n baie lang tyd . Alhoewel daar plek-plek versuiptoestande voorgekom het op veral mielies , het die seisoen baie goed verloop met rekordopbrengste op baie plekke .
Johan van den Berg Onafhanklike Landbouweerkundige

Graanpryse het ook saamgespeel om goeie winste te verseker terwyl beter weidingstoestande die prys van lewende hawe ook skerp laat styg het as gevolg van die groot vraag na aanteelvee .

Daar is dikwels ‘ n senuweeagtigheid by landboubesluitnemers oor wat om te doen vir die seisoen wat volg op ‘ n goeie seisoen . Uit ervaring weet boere , landboukundiges en almal betrokke in landbou dat produksie- toestande nie altyd so goed verloop soos byvoorbeeld in die 2020 / 21-seisoen nie . Aan die een kant is daar die meer optimistiese besluitnemers ( dalk besluitnemers sonder ervaring ?) wat ‘ n goeie seisoen net sien as die begin van ‘ n klomp goeie seisoene en dat dit ‘ n “ nuwe normaal ” aandui . Dan is daar die groep wat meer konserwatief is en weet dat hulle produksie omgewing baie wisselvallig is en maklik ‘ n ommekeer kan maak na minder gunstige toestande .
Indien daar egter meer as een redelike goeie produksiejaar agtermekaar voorkom , is die meeste konserwatiewe besluitnemers ook van mening dat dinge besig is om permanent te verander . Dit is dan net hier waar die groot ontnugtering voorkom in opvolgende jare .
WAAR STAAN ONS IN HIERDIE SIKLUS ? KAN 2021 / 22 OOK GOEIE PRODUKSIE- TOESTANDE INHOU ?
Soos in 2020 / 21 het daar weer ‘ n La Ninaverskynsel ontwikkel . Dit beteken dat see-oppervlaktemperature in die sentrale Stille Oseaan tussen Australië en Suid-Amerika rondom die ewenaar , koeler as normaal is . Soos met El Nino , wanneer waters warmer is as normaal , verander dit die oorliggende weersisteme en kan veral die suidelike halfrond veranderde reënvalpatrone ervaar . Gewoonlik is ‘ n La Nina-verskynsel verantwoordelik vir bogemiddelde reënval oor Suidelike Afrika , veral oor die sentrale tot westelike dele . Globaal het La Nina ook ‘ n positiewe uitwerking op reënval vir die Desember tot Maart periode in veral die oostelike dele van Australië , die noordwestelike dele van die VSA en die aangrensende dele van Kanada asook die noordelike dele van Suid-Amerika . Droër toestande kom gewoonlik voor oor Argentinië , die suidoostelike dele van Brasilië , sentraal Asië asook Oos- en Noord-Afrika .
Die huidige La Nina het vanaf Julie 2021 begin ontwikkel en sal na verwagting teen einde Desember of begin Januarie ‘ n piek bereik , maar wel nog voortduur tot in Maart /
April 2022 . Die implikasie is dat die kanse baie goed is vir gemiddelde tot bogemiddelde reënval vir die res van die somer . Daar kan wel droër periodes voorkom , maar dit behoort van korte duur te wees . Globaal het die huidige La Nina se effek ‘ n bietjie later as normaal begin deurwerk soos ook gesien in Suid-Afrika . Gewoonlik veroorsaak ‘ n La Nina-verskynsel bogemiddelde reënval oor die oostelike produksiegebiede vanaf Oktober en veral in November . November 2021 was egter oor die algemeen droog en baie warm en het swaar reën eers in die laaste week van November begin voorkom asook in die eerste week van Desember .
VOORUITSIGTE VAN DIE 2021 / 22-SEISOEN
Dit lyk dus asof die 2021 / 22-seisoen weer bogemiddelde reënval kan verwag , veral oor die sentrale tot westelike dele van die land . Oor die langer termyn is daar aanduidings van ‘ n El Nino-verskynsel wat in die volgende seisoen ( 2022 / 23 ) kan voorkom . Dit kan droër toestande veroorsaak wat veral produksie op swakker gronde met ‘ n lae waterhou vermoë kan benadeel . Produksie op sogenaamde watertafelgronde of baie nat gronde kan egter hierby baat . Die huidige goeie reeks van seisoene is nie die nuwe normaal nie maar as gevolg van ander faktore soos La Nina en gunstige Indiese Oseaan see-oppervlaktemperature . Benut dus die huidige goeie toestande maar wees bewus dat dit nie noodwendig so gaan aanhou nie .
12
SENWES SCENARIO | SOMER SUMMER 2021