Senwes Scenario December 2021 - February 2022 | Page 54

JAG

KOOP PLAASLIK VIR KOLSKOTE

Suid-Afrikaanse jagters en skyfskietskuts het dit deesdae baie maklik . Waar ons in die verlede hoofsaaklik aangewese was op oorsese produkte , is daar tans ’ n groot verskeidenheid plaaslikes van hoë-kwaliteit beskikbaar . Koeëls vir jag en skyfskiet is een so ’ n produk .
Deur Koos Barnard Wapenspesialis
DIE NUWELING ’ n Nuwe toetreder tot die mark is Balistix Bullets wat monometaalkoeëls is wat van rooikoper vervaardig word .
Twee vriende , ’ n bankier , Chris Strydom en ’ n ingenieur , Roelof Vorster wat groot skietentoesiaste is , het besluit om hul passie een stap verder te neem en hul eie koeëls te ontwikkel . Waarom ? Behalwe dat dit lekker is om jou eie produk te gebruik , was die periodieke gebrek aan oorsese koeëls ook ’ n dryfveer . Ek dink die meeste van ons het al die frustrasie ervaar van koeëls wat nie beskikbaar is wanneer jy dit die nodigste het nie . En soms neem dit ’ n hele paar maande voordat die betrokke produk weer hier land .
Deur Suid-Afrikaans te koop , is jy verseker dat die produk altyd beskikbaar sal wees .
Maar waarom ’ n monometaalkoeël ? Dis doodeenvoudig ; hierdie koeëls werk uitstekend op wild ten opsigte van penetrasie en gewigsretensie en , anders as loodkernkoeëls , hou dit geen gesondheidsgevare in nie . Daar word reeds wêreldwyd veldtogte geloods om die vervaardiging van loodkernkoeëls te stop en soos lesers seker weet , is daar al lande waar die gebruik van loodhaelkorrels op veerwild ( spesifiek watervoëls ) heeltemal verbied word .
Monometaalkoeëls wat geen lood bevat nie is dus die koeëls van die toekoms .
Balistix se koeëls , wat uit 99.5 % koper bestaan , word net soos baie ander monometaalkoeëls op CNC-masjiene gesny . Die Balistix-koeël is ’ n bootstertkoeël wat die sogenaamde rebated boattail-ontwerp ( RBT-ontwerp ) gebruik . Die verskil tussen ’ n gewone bootstertontwerp en die rebated een , is dat laasgenoemde ’ n trappie het waar die bootstert begin .
Volgens Balistix en ander vervaardigers van sulke koeëls is die voordeel dat die gas wat agter die koeël uit die loop ontsnap meer sywaarts ( dus weg van die koeël af ) gedeflekteer word die oomblik as die koeël die loop verlaat . Dit veroorsaak minder turbulensie rondom die basis van die koeël sodat die koeël vinniger stabiliseer , wat dan kan lei tot ’ n 15 % verbetering in akkuraatheid , aldus die vervaardiger . Koeëls met ’ n RBT-ontwerp is blykbaar ook minder gevoelig vir loop- en kroondefekte . Met hierdie tipe ontwerp kry jy dus die voordeel van ’ n platbasis- en ’ n bootstertkoeël in een .
DRIE TIPES
Balistix-koeëls is beskikbaar in drie tipes , naamlik ’ n soliede een vir skyfskiet , die Target en twee met hol punte wat kan omklink en vir jag bedoel is . Laasgenoemdes word die Ultra Hunt en die HunTac genoem .
Die Ultra het ’ n redelike groot gaatjie in terwyl die HunTac s ’ n kleiner is . Ultra Hunt-koeëls is bedoel vir korter afstande in die bos terwyl die Huntac ’ n effens beter BC het en meer bedoel is vir langer skote in oper terrein . Die enigste verskil tussen die jagkoeëls en die Target is dat laasgenoemde nie die holpunt het nie en effens goedkoper is . Balistix se jag- en skyfskietkoeël groepeer vir alle praktiese doeleindes ( realistiese jagafstande ) op dieselfde plek en die goedkoper koeël kan dus gebruik word vir ladingontwikkeling .
Die Target en HunTac-koeëls is beskikbaar in nege verskillende kalibers van . 243 ” tot . 375 ” terwyl die Ultra Hunt tans net in . 308 ”, . 338 ”, 9.3mm en . 375 ” gemaak word . Chris en sy span is besig om die reeks uit te brei . Behalwe vir doelgerigte jagkoeëls vervaardig Balistix ook koeëls met hoë BC ’ s vir ekstreme langafstandskiet met kalibers soos die . 375 CheyTac byvoorbeeld . Die CheyTac-koeëls sal ook vorentoe uitgebrei word .
Soos die meeste ander monometaalkoeëls het die Balistix groewe en nie dryfbande nie – met ander woorde die ogief van die koeël waar dit stop is nie kleiner in deursnee as die skag nie , en die ogief maak wel kontak met die loop se lande / groewe as die koeël in die loop af beweeg .
Iets wat Balistix-koeëls uniek maak , is dat hulle voorsien word van ’ n deklaag smeermiddel wat kortweg bekend staan as hBN ( hexagonal boron nitride ). Hierdie witterige poeier word wêreldwyd gebruik deur ’ n groot aantal industrieë en deesdae ook in die skietwêreld waar dit grootliks besig is om die welbekende Moly te vervang . HBN het veel beter eienskappe as Moly , pak nie aan in geweerlope soos Moly nie en is nie so morsig om te gebruik nie . Skuts wat dit gereeld gebruik ( waaronder sommige van ons voorste Bisley-skuts ) praat nét met lof daarvan . Dit verlaag nie net die druk in die loop nie , maar veroorsaak ook minder kopersmeer en koolstofdeposito ’ s in die loop . Dit reageer ook nie met vog soos Moly nie ( wat swawelsuur kan vorm en lope erodeer ) is meer hittebestand ( tot 2400 ° C teenoor Moly se ongeveer 900 ˚ C ) en oksideer dus nie so gou soos ander sogenaamde soliede smeermiddels nie .
Die kwaliteitsbeheer van Balistix-koeëls is baie hoog en dit reflekteer in die gehalte van die eindproduk – die toleransies is baie klein , die koeëls is netjies afgewerk en die verskil in gewig van koeël tot koeël baie klein .
52
SENWES SCENARIO | SOMER SUMMER 2021