Senwes Scenario Augustus/September 2018 | Page 46

LANDBOUKUNDIG | AGRICULTURAL

Droëseisoen-aanvullings

Waar lê die slaggate ?

Die gebruik van droëseisoen-lekaanvullings is ‘ n wetenskaplik gefundeerde praktyk wat reeds vir etlike dekades deur die meeste produsente toegepas word .
� Deur Phillip Lee Hinterland Bestuurder : Diereproduksiedienste

Die produksie- en reproduktiewe voordele vir die dier , asook die ekonomiese gewin vir die produsent , is in talle wetenskaplike proewe bewys - net so is die katastrofiese gevolge van ’ n gebrekkige lekstrategie vir dier en produsent ook al telkens uitgelig .

Met die druk van die kosteknyptang wat al stywer knyp , moet daar toenemend gefokus word om ekonomies meer effektief te wees in ons lekstrategieë . Daar behoort dus geen twyfel by ’ n produsent te bestaan oor die voordele van strategiese lekaanvullings nie , veral teen die agtergrond van die getuienis ten gunste van strategiese lekaanvulllings nie . In dié artikel gaan daar nie gefokus word op spesifieke produkte se voor- en nadele nie , ook nie op die onderskeie praktyke soos byvoorbeeld tuismeng versus rakprodukte nie , maar eerder na sekere seisoenale slaggate , wat soms misgekyk word en wat te midde van die regte produkkeuse en praktyk , steeds die doel van ’ n lekprogram kan kelder .
SEISOENALE SLAGGATE Een van die eerste slaggate wat uitgelig moet word , is dat die persepsie bestaan dat ons die winter geleidelik binnegaan en dat ons tyd aan ons kant het . Dit is in
baie gevalle nie waar nie - inteen deel , die winter is onvergewensgesind en drasties . Die daling in die voedingstatus van ons weiding ( veral met betrekking tot proteïen ) in die wintermaande is skielik . Ons moet bedag hierop wees en verseker dat ons tydig ons lekstrategie aanpas om te kompenseer vir die daling in die kwaliteit van die weiding .
Dit is ook wel so dat geen twee opeenvolgende jare dieselfde is nie en daarom kan ons nie jaar na jaar besluit om op ’ n vasgestelde datum oor te gaan na winterlekke nie . Dit verg fyn waarne ming aan die kant van die produsent .
Die tweede en moontlik groter slaggat is dat ons winters langer is as wat algemeen aanvaar word . Ons winterperiode begin vroeër en eindig later en die groot gevaar lê daarin dat ons geneig is om ons “ menslike ” seisoene te vergelyk met dié van die dier . Ons is in baie dele van die land tegnies reeds in Maart in ’ n winterperiode , alhoewel die dagtemperature steeds relatief hoog is , maar ons sien dat ons proteïenaanbod vanuit die weidings dan reeds nie voldoen aan die proteïenbehoefte van die dier nie .
Wanneer ons einde September / begin Oktober die winterjasse en wolkomberse wegpak en die aankoms van die “ somer ” geniet , is dit in die wêreld van die dier die klimaks van die winter . Waak dus teen die vroegtydige onttrekking van die winterlekke wanneer die dier se behoefte juis op sy hoogste is .
’ n Verdere slaggat wat uitgelig moet word , is om nie die bydrae van ons natuurlike hulpbronaanbod ( weiding ) te oorstateer nie . Geen lekstrategie kan kompenseer vir ‘ n gebrekkige hulpbronaanbod nie en wanneer lekke weidings begin vervang , raak dit ’ n baie duur oefening , nie net in terme van hoë lekkoste nie , maar ook in terme van verliese vanweë sub-standaard diereprestasie .
Volg dus ’ n konserwatiewe benadering tot die voedingstatus van die weiding en die meegaande veeladings , veral laat in die droë seisoen , wanneer die veld dan redelik uitgevreet is . In die praktyk sien ons steeds dat te min lekbakke uitgesit word en dat goeie lekstrategieë soms ongedaan gemaak word omdat diere nie die aanbevole lekinnames kry nie . Navorsing het getoon dat in sekere gevalle tot 25 % van die diere nie die regte hoeveelheid lek inneem nie en 10 % van die diere geen lek inneem nie as gevolg van kompetisie .
Ons kan dus sien dat suksesvolle droëseisoen-lekaanvullings nie net berus by die keuse van die regte produk met die korrekte samestelling om kritiese tekorte ekonomies en strategies aan te vul nie , maar ook by ’ n duidelike begrip van die seisoen waarin ons is , en meer belangrik , ’ n duidelike begrip van die seisoen waarbinne die dier is en wat die produksieverwagting op daardie spesifieke tydstip is . ’ n Lekstrategie moet dan gevolg word wat in sinkronisasie is met die seisoen , die produksiestatus van die diere en die werklike bydrae van die natuurlike hulpbron .
44
SENWES SCENARIO | LENTE • SPRING 2018